Algemene Siektes en Probleme met Bokke
©Susan Schoenian University of Maryland Extension
Siektes en gesondheidsprobleme by bokke kan veroorsaak word deur verskeie tipes organismes (virusse, bakterieë, protozoa of wurms), maar ook deur swak voeding. Byvoorbeeld, swak voeding is die algemeenste oorsaak van aborsies by bokke.
Probleme by bokke wat gekenmerk word deur sere is byvoorbeeld absesse, voetabsesse en orf. Sommige siektes kan ‘n sekondêre siekte veroorsaak, soos orf en mastitis. Boklammers kan orf versprei van hulle bekke na hul moeders se spene. Sulke ooie is meer geneig om mastitis te ontwikkel.
Sommige siektes vertoon soortgelyke simptome: bokke met tetanus, bloutong en hartwater kan almal senuweesimptome soos trekkings vertoon. Diarree is weer ‘n tipiese simptoom van koksidiose sowel as wurmbesmetting Dis daarom belangrik om tussen simptome te onderskei en hulle te herken as simptome van boksiektes.
Sommige siektes soos bloednier en tetanus moet liewer verhoed word deur inenting, en ‘n behoorlike inentingsprogram kan ook ander boksiektes en inwendige pesbesmettings voorkom. Raadpleeg jou veearts of dieregesondheidstegnikus.
Aborsie
©Susan Schoenian University of Maryland Extension
Die abortering van ‘n fetus kan veroorsaak word deur die ooi wat verhonger of deur organismes soos Chlamydia (behandeling: inenting) of Coxiella (behandeling: bosuisbeheer). Om aborsie te voorkom, moet daar seker gemaak word dat ooie genoeg proteïene en energie gevoer word. Raadpleeg jou dierevoerverskaffer of veearts vir advies.
Absesse
©Susan Schoenian University of Maryland Extension
‘n Abses is gewoonlik tipies rond, geswel en pynlik wanneer aangeraak. Absesse word veroorsaa as bakterieë ‘n wond binnedring. Die abses moet ontsmet en gedreineer word met steriele toerusting. Dien daarna ‘n antibiotiese inspuiting toe.
Voetabsesse
©Susan Schoenian University of Maryland Extension
‘n Voetabses word veroorsaak deur bakterieë wat die liggaam binnedring deur klein wondjies soos bosluisbytplekke aan die voete. Voetabsesse veroorsaak gewoonlik dat die bok mank loop met pynlik geswelde hoewe. Behandeling van voetabsesse sluit in antibiotiese behandeling met langwerkende oksitetrasiklien, bosluisdippe en voetdippe.
Orf/Vuilbek
©Susan Schoenian University of Maryland Extension
Orf of vuilbek is ‘n virale infeksie van die vel en slymviese (oë, mond, neusgate en spene) van skape en bokke. Vuilbek kan versprei na mense. Hou vuilbekdiere weg van die res van die trop en behandel die rowe met Vaseline (dra handskoene) of ‘n antibiotiese aanspuitmiddel. Inenting kan verhoed dat vuilbek versprei na die res van die trop.
Mastitis
Mastitis is ‘n baie pynlike inflammasie van die uier. Simptome sluit in koors, depressie, verminderde aptyt, en weiering om lammers te laat drink. Die uier sal rooi en geswel wees en melk kan dun en waterig, of bloederig en dik met klonte wees.
Wissel ‘n warm (warmwatersak) en ’n koue kompres (yssakkie in ‘n handdoek) af vir 5 - 10 minute elk en spuit antibiotika in die spier. Voer lammers van ‘n ooi met mastitis met ‘n bottel en skoon, gesonde melk om te verhoed dat hulle verhonger.
Moenie mastitismelk met gesonde melk meng nie.
Longontsteking
©Susan Schoenian University of Maryland Extension
Longontsteking word veroorsaak deur ‘n bakterie genaamd Pasteurella en Mannheimia en kan ontwikkel as bokke onder stresvolle toestande verkeer – swak weer, skielike veandering in temperature.
Simptome sluit is koors, kortasem, hoes, afskeiding uit die neus en moeisame vreet.
Behandel met langwerkende oksitetrasiklien-produk. Voorsien skuiling gedurende slegte weer en laat diere toe om te rus, hooi te vreet en water te drink tydens lang reise.
Bloednier
Bloednier is ‘n dodelike siekte wat deur bakterieë veroorsaak word en word dikwels deur jong diere opgedoen. Dit slaan gewoonlik toe na skielike verbetering in die dieet en verskyn vinnig. Diere mag onvas op hul voete wees en stuiptrekkings kry of mag skielik vrek sonder om enige simptome te toon. Behandeling is gewoonlk te laat, maar bloednier kan verhoed word deur nuwe voer geleidelik in te voer.
‘n Post-mortem (ondersoek van die dooie dier) mag sagte, bleek niere, rooi gas-gevulde ingewande en ‘n verhoogde hoeveelheid vloeistof in die sak rondom die hart oplewer.
Inentings teen bloednier is beskikbaar.
Tetanus
Tetanus word veroorsaak deur ‘n bakterium wat wonde infekteer en sal styfheid van ledemate, ingeperkte asemhaling en spasmas veroorsaak. Die kop is agteroor gebuig, reflekse op klank en aanraking is oordrewe en die derde ooglid beweeg oor die oog.
Dra handskoene wanneer diere hanteer word – ontsmet wonde, verwyder dooie weefsel en dien ‘n antibiotikum toe. Paas diere in ‘n donker, stil plek en voorsien kos en water.
Bloutong
Hierdie virale siekte word gedra deur muggies en kom dikwels voor na swaar reën en wanneer toestande warm en nat is. Bokke sal hoë koors en geswelde lippe hê en hul nekke op ‘n eienaardige manier hou. Tonge sal blou wees en rooi strepe sal bokant die hoewe verskyn.
Ent in die lente teen bloutong (na lamtyd en nie gedurende die eerste drie maande van dragtigheid nie), hou bokke weg van laagliggende, nat weiding en beskerm hulle teen insekte.
Hartwater
©Prof Horrock (ARC Onderstepoort Veterinary Research)
Word veroorsaak deur die bontpootbosluis wat voorkom in die rypvrye droë gedeeltes van Suid-Afrika. Hartwater is ‘n ernstige siekte. Simptome sluit in koors (meer as 40°C), draai van koppe op ‘n vreemde manier, skuim om die bek en neus en senutoestande soos hoogtrap en skop. Behandel onmiddellik met ‘n langwerkende oksitetrasiklien en voorkom hartwater deur inentings.
Koksidiose
©Susan Schoenian University of Maryland Extension
Koksidiose is ‘n siekte van boklammers en word dikwels veroorsaak deur vuil krale en hokke. Die siekte skuil in kraalmis en veroorsaak waterige diarree, dehidrasie en verlies aan eetlus. Skei alle siek diere van die trop en behandel koksidiose met die korrekte middel soos deur jou veearts aanbeveel.
Behandel dehidrasie met ‘n mengsel bestaande uit ‘n halwe teelepel sout en ses teelepels suiker op ‘n liter lou water. Gee 250ml – 500ml daagliks vir drie dae.
Rondewurms
©Susan Schoenian University of Maryland Extension
Bokke kan rondewurms kr as hulle gras vreet. Simptome van rondewurmbesmetting is ‘n geswelde onderkaak en verlies aan kondisie terwyl die binnekante van ooglede bleek is. Gebruik die FAMCHA© kaart om te bepaal watter diere behandeling nodig het volgens die bleekheid van hul slymvliese. Diarree kan ook voorkom maar moet nie verwar word met ander siektes nie.
Lintwurms
©Susan Schoenian University of Maryland Extension
Herkenbaar aan die wit segmente in die mis, beïnvloed lintwurms bokke se kondisie maar nie so erg soos rondewurms nie. Kies ‘n wurmmiddel wat beide ronde- en lintwurms behandel.
Lewerslak
Lewerslakke is plat, blaarvormige wurms wat voorkom in die galbuisies in die lewers van diere. ‘n Bottelnek, bleek slymvliese en gewigsverlies is simptome van lewerslakbesmetting. Die lewensiklus van hierdie inwendige parasiet sluit in nat weiding en ‘n spesifieke slak. Kamp nat areas af en behandel bokke met ‘n geregistreerde wurmmiddel.
Let asseblief daarop dat inligting alleenlik vir opvoedkundige en inligtingsdoeleindes is en nie bedoel is as mediese advies nie. Die inligting is nie bedoel as plaasvervanger van mediese advies of raad van ‘n veearts nie.
Translated by Elna Van Rhyn