In Aanraking met Iemand wat Gediagnoseer is met Coronavirus

Jy was in aanraking met iemand wat gediagnoseer is met die nuwe coronavirus (2019-nCoV): Wat nou?

Die inkubasietydperk (tyd vanaf infeksie totdat simptome begin wys) duur vanaf 2 tot 14 dae. Indien jy simptome ontwikkel binne hierdie tydperk, sal jy vir die coronavirus getoets moet word.

Waarom kan ek nie onmiddellik getoets word nie?
Dit neem tyd vir die virus om te vermeerder tot ‘n vlak waar ons dit kan opspoor met laboratoriumtegnieke.

Kan ek nie solank medisyne drink vir in geval ek dit het nie?
Aangesien dit ‘n virus is, is enige behandeling slegs ondersteunend – wat beteken dat die simptome van die coronavirus behandel word, maar daar is geen medisyne wat die virus kan doodmaak nie; dis noodsaaklik dat jou liggaam se immunsisteem die geleeentheid kry om die virus te beveg.

Wat moet ek doen?
Jy word versoek om jouself in self-kwarantyn te plaas. Dit beteken dat, alhoewel jy nog nie simptome het nie, jy sal wegbly van ander mense sodat die virus verhoed word om verder te versprei.

Maar kan ek die virus oordra aan iemand hoewel ek nie siek voel nie?
Ja, bewyse bestaan dat jy wel die virus aan iemand kan oordra alhoewel jy geen simptome het nie.

Kan ek gaan werk?
Dit word aanbeveel dat jy nie gaan werk nie omdat jy die virus aan jou kollegas mag oordra. Jou algemene praktisyn sal ‘n mediese sertifikaat uitreik wat jy aan jou werkgewer kan oorhandig.

Kan ek skool toe gaan?
Dit word aanbeveel dat jy nie skool toe gaan nie omdat jy die virus mag oordra aan ander kinders en onderwysers. Jou algemene praktisyn sal ‘n mediese sertifikaat uitreik wat jy by die skool kan inhandig.

Kan ek my vriende ontmoet?
Daar word aanbeveel dat alle sosiale kontak vermy moet word. Deur aan sosiale kontak deel te neem kan die virus na familie en vriende versprei word.

Kan ek gaan inkopies doen, publieke plekke besoek en publieke vervoer gebruik?
Daar word aanbeveel dat geen publieke plekke (soos winkels, kerke, ontspanningsareas) besoek word, of dat van publieke vervoer gebruik gemaak word nie, omdat dit die virus na ander mense mag versprei.

Wat is ek veronderstel om te doen? Dit word aanbeveel dat jy tuis bly tydens die moniteringstydperk. Om diegene rondom jou te beskerm:

Was jou hande dikwels en gebruik seep of ‘n alkoholgebaseerde reiniger.
Bly so ver weg van gesonde indiwidue (wat nie enige simptome toon nie) as moontlik (ten minste 1 meter).
Dra so gereeld as moontlik ‘n mediese masker.
Bedek jou mond en neus met weggooibare sneespapier wanneer jy hoes of nies, of hoes en nies in jou gebuigde elmboog. Raak dadelik ontslae van die materiaal na gebruik en reinig jou hande onmiddellik met seep en water of ‘n alkoholgebaseerde reiniger.
Verbeter die vloei van lug in leefruimtes deur vensters en deure so dikwels as moontlik oop te maak.

Hoe gaan ek gemonitor word?
Jy sal elke dag ‘n skakel (link) per e-pos ontvang wat sal vra of jy enige simptome ervaar. Klik op die skakel en antwoord die vrae elke dag, selfs al ervaar jy geen simptome nie. Indien jy nie toegang het tot e-pos of die Internet nie, sal iemand jou elke dag bel om te vra of jy enige simptome ervaar. Maak asseblief seker dat jy beskikbaar is om die inligting te verstrek.

Hoe lank gaan ek gemonitor word?
Vir 14 dae nadat jy in kontak was met ‘n person wat ‘n bevestigde 2019-nCoV coronavirus infeksie opgedoen het.

Vir watter simptome moet ek op die uitkyk wees?
‘n Gemete liggaamstemperatuur van 38°C of meer, kouekoors, hoes, seer keel, kortasem, mialgie of liggaamspyne, diarree (passeer drie of meer los of waterige stoelgange per dag).

Ek het simptome, moet ek wag vir die e-pos of oproep?
Nee, sodra jy simptome simptome van die coronavirus ontwikkel moet jy asseblief onmiddellik die blitslyn (“hotline”) skakel.

Wat sal dan gebeur?
Afhangende van die simptome en hoe erg hulle is, sal ‘n monster by jou geneem word en getoets word vir die virus.

Translated by Elna Van Rhyn