Nadat apartheid opgehef is en die Waarheid- en Versoeningskomissie (WVK) in 1996 in werking getree het, is Winnie Mandela opgeroep weens haar betrokkenheid by die aanrandings en moorde wat deur die Mandela United Football Club (MUFC), wat onder haar leierskap gestig is, uitgevoer is.
Nadat Aartsbiskop Desmond Tutu haar gesmeek het om dit te doen, het Winnie die families van beide Stompie Seipei en Abu Baker Asvat, albei slagoffers van die MUFC, om verskoning gevra. Daarna het sy voortgegaan om haar vir die veldtogte waarin sy geglo het, te beywer. Sy het in 2000 Zimbabwe toe gegaan om die Zimbabwiese oorlogsveterane wat wit plase oorneem te ondersteun.
Sy het ook die pleidooi vir gratis antiretrovirale (ARV) behandeling vir MIV-lyers ondersteun. In 2007 is sy tot die ANC se Nasionale Uitvoerende Komittee verkies, en in 2009 was sy vyfde op die ANC se lys van genomineerde Lede van die Parlement (LPs).
Winnie Mandela word wyd gereken vir haar aandeel tot Suid-Afrika se bevryding van rasseskeiding. Vir baie mense is sy een van die gesigte van die vryheidsbeweging wat baie naamgenote tot gevolg gehad het, asook verskeie gala-aande en ander geleenthede wat ter ere van haar gehou is.
Van die meer formele eerbewyse wat aan haar toegeken is, sluit in: Vryheid van die Stad van Aberdeen (1984) Verenigde Nasies Prys in die Veld van Menseregte (1988) Die Orde van Luthuli in Silwer (2016) Na haar dood in 2018 in 'n staatsbegrafnis vir Winnie Mandela by die Orlando-stadion in Johannesburg gehou. Duisende mense het die diens bygewoon, insluitende hoë-profiel politieke figure, en President Cyril Ramaphosa het 'n huldeblyk aan haar gelewer.
Translated by Rentia Pretorius