Wisselbou - ook genoem gewasrotasie (‘crop rotation’) - is die afwisseling van verskillende gewasse in opeenvolgende plantseisoene. Eenjarige gewasse (soos groente of grane) kan nie twee jaar na mekaar op dieselfde stuk grond geplant word nie.
Dit moet met ander gewasse afgewissel word, want verskillende gewasse neem verskillende voedingstowwe uit die grond op of sit dit terug in die grond. 'n Sinergisme of wisselbou-effek kom dikwels tussen sekere gewasse voor indien dit afgewissel word. Dit beteken eenvoudig dat 'n gewas se opbrengs en kwaliteit bevoordeel kan word indien dit in 'n sekere gewasopvolgpatroon verbou word.
Byvoorbeeld, in toetse deur Graan SA en die Landbounavorsingsraad se Kleingraan-instituut oor verskeie jare en lokaliteite gemeet, styg die opbrenqs van mielies met gemiddeld sowat 12% indien dit na 'n peulgewas verbou word. Ook was die opbrengs van koring na sonneblom en 'n 13-maande braakperiode 54% hoër as die van die koring-monokultuur-stelsel.
Wisselbou help hersirkuleer voedingstowwe. Die belangrikste voorbeeld hiervan peulplante soos ertjies, boontjies, canola en lupiene. Hierdie peulgewass het ‘knoppies’ (nodules wat deur die Rhizobium bakterie gevorm word) aan hulle wortels wat stikstof (N) vir die plant maak. Die jaar nadat een van hierdie gewasse aangeplant is, is daar baie stikstof in die grond. Ander groente wat baie stikstof nodig het kan daarna aangeplant word.
Wortels het nie so baie voedingstowwe nodig nie en kan twee of drie seisoene na ’n peulplant aangeplant word. Wisselbou breek die lewensiklus van onkruide en plae. Insekte verkies sekere plante om hulle eiers op te lê of om daarop te voed. Insekte sal dus hulle eiers op plante lê as hulle weet daar is voedsel vir die larwe om te eet sodra dit uitbroei.
As die produsent elke jaar van gewas verander op ’n spesifieke stuk grond, word die insek se lewensiklus op so ’n manier verbreek en dit is ’n omgewingsvriendelike metode om dit te probeer bekamp. Die idee is om gewasse wat nie gashere van 'n spesifieke plantsiekte is nie, af te wissel (roteer).
Volgens Dr. Belinda Janse van Rensburg of van die Landbounavorsingsraad se Kleingraan-instituut is die korrekte identifikasie van plantsiektes, gewasvoorkeure en verspreiding van die siekte, uiters belangrik voordat 'n wisselboustelsel beplan kan word.
Beplan hoe gewasse mekaar opvolg – wissel peulplante met ander gewasse af. Soos genoem het verskillende gewasse verskillende voedingsbehoeftes.
Gewasse met uitgebreide wortelstelsels soos klawer, gars en lusern is goed om te gebruik want dit het ‘n uitgebreide wortelstelsel, wat baie organiese materiaal terugsit in die grond.
Hierdie gewasse kan ook tussen in rye gebruik word om grondvrugbaarheid en struktuur te verbeter, meer organiese materiaal terugsit en om grondbedekking te verskaf.
Alle plante (ook groente) is in families ingedeel en lede van dieselfde familie word deur dieselfde peste en plae aangeval en moet mekaar dus nie opvolg in 'n wisselbouprogram nie.
Groente kan in die volgende wisselbougroepe ingedeel word:
Groep A: Kool, blomkool, brokkoli, brusselse spruite, uie, preie, en knoffel
Groep B: Wortels, beet, snybeet, rape, patats, seldery, radyse
Groep C: Tamaties, aartappels, rissies, eiervrug en kropslaai
Groep D: Pampoene, skorsies, komkommer, waatlemoen en spanspek
Groep E: Boontjies en ertjies
‘n Voorbeeld van ‘n groente wisselboustelsel werk as volg: Deel die stuk grond wat vir groenteproduksie aangewend gaan word in vyf (5) persele. Plant op perseel 1 groente van groep A, perseel 2 groente van groep B, perseel 3 groente van groep C, perseel 4 groente van groep D en perseel 5 groente van groep E. Die groepe skuif elke jaar een perseel aan.
By Marinda Louw