Oorbenutting van visbronne en besoedeling van die oseane het die natuurlike visbronne van Suid-Afrika onrusbarend uitgeput. Die gevolg is dat baie van ons visbehoeftes in die toekoms deur kommersiële visboerdery (akwakultuur) bevredig sal moet word. Volgens die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, word akwakultuur in Suid-Afrika verdeel in varswater visboerdery en mariene (seewater) visboerdery.
Die plaaslike akwakultuurbedryf is goed georganiseerd deur verteenwoordigende produsente organisasies en die oorkoepelende AquacultureSA kommoditeitsgroep.
‘n Totaal van 189 plase is in 2015 deur DAFF opgeteken vir beide mariene en vars water. Die meeste varswater plase maak gebruik van hersirkulasiesisteme, gronddamme of raceways vir die kultivering van spesies. In die mariene sektor word daar met mulluske (bv. oesters en mossels) geboer op vlotte of 'long lines', en perlemoen word gekweek in tenks met pump ashore tegnologie.
Die forelsektor was hoofsaaklik verantwoordelik vir die ontwikkeling van visboerdery in Suid-Afrika. Hoewel forel reeds in die 1890’s in Suid-Afrika ingebring is vir sportvisvangdoeleindes, het kommersiële produksie eers in die 1960’s begin. John L. Scott het in 1894 die eerste permanente forelbroeiery gebou in die Jonkershoekvallei buite Stellenbosch. Die klipgebou bestaan steeds vandag as ‘n nasionale monument.
Die produksie van forel was nog altyd stabiel en het toegeneem van ongeveer 1 000 tot 1 500 ton per jaar.
Suid-Afrika se akwakultuur het ‘n vinnige toename beleef sedert 2012. ‘n Totale produksie van 3 927 ton is aangeteken in 2012, 44 802 ton in 203 en byna 5 210 ton in 2014. Die totale produksie in 2015 was 5 418 ton wat ‘n toename van 4% is teenoor 2014.
Uitvoerdata van die DAFF dui aan dat die Suid-Afikaanse bedryf gedomineer word deur mariene akwakultuurspesies. Dit is hoofsaaklik perlemoen (Haliotis midae) uitgevoer uit die Wes-Kaap Provinsie, wat meer as 80% van alle Suid-Afrikaanse akwakultuurproduksie verteenwoordig. Perlemoen en dusky kob (Argyrosomus japonicas) uit die Oos-Kaap maak 12.75% uit van akwakultuur uitvoere vanuit Suid-Afrika.
Varswatervisboerdery is baie beperk weens die beskikbaarheid van geskikte water: beide die kwaliteit en kwantiteit. Die belangrikste areas vir die produksie van varswatervisspesies in Suid-Afrika is die Wes-Kaap, Oos-Kaap, Limpopo en KwaZulu-Natal.
Varwaterspesies waarmee daar tans in Suid-Afrika geboer word, sluit in reënboogforel, bruin forel, krokodil, ornamentele vis, Afrika skerptandbaber, Mosambiekse en Nyl-tilapia, marron crayfish en gewone karp. Hiervan is die reënboogforel, die Afrika baber en die gewone forel die drie dominante spesies. Verskillende boerderysisteme, van nethokke in groot damme tot hoëdigtheid binnenshuise hersirkulasiesisteme word gebruik.
Akwakultuur is beide kapitaal- en vaardigheidsintensief en daarom sal dit onwys wees om te onder-investeer, net om later te besef dat jy onvoldoende kapitaal, kennis en vaardighede het om winsgewend te word. Dit is ook belangrik om te besef dat akwakultuur ‘n boerdery-aktiwiteit is, waarby lewende organismes betrokke is. Dit verg die aandag van die visboer 24/7. Het jy die vereiste temperament om sulke ure te werk of toesig te hou oor personeel wat sulke ure moet werk?
Visboere, veral dié wat op klein skaal opereer, is ook geneig om alles en almal te wees in hul besighede, van die drywer wat die vis aflewer en voer oplaai, tot die pomptegnikus, visgesondheidspsesialis, menslike hulpbronbestuurder en finansiële direkteur.
Die vermoë om ‘n span te bou van mense met diverse, komplementêre talente is een van die voordele van die uitbreiding van ‘n akwakultuurbesigheid. Dan kan elkeen op hul speaialisarea fokus.
Akwaponika as ‘n tegnologie is ‘n sisteem wat op ‘n meer intensiewe wyse hersirkulerings akwakultuur kombineer met hidroponika. In hidroponika word plante gevoed deur voedingstofryke water. Die idee agter akwaponika is dat plante visafval uit ‘n akwakultuursisteem benut as voedingstowwe vir plantegroei. Die skoon water word dan weer teruggestuur na die vis. Hierdie tegnologie kan maklik aangepas word vir kleinhoeweboere, gemeenskapsprojekte en kommersiële ondernemings.
Die mark vir akwakultuurprodukte is besig om uit te brei regdeur die wêreld soos bevolkings groei. Mense is besig om meer stedelik en gesondheidsbewus te raak, wat beteken dat die verbruik van vis as voedsel besig is om toe te neem oor die wêreld.
Suid-Afrika is tradisioneel nie ‘n vis-etende nasie nie, maar sy verbruikers het al meer bewus geraak van die toenemende aantal produkte wat beskikbaar is in die winkels. Tilapia word al meer gewild sowel as baberwors en-burgers.
Effektiewe produksie van akwakultuur kan vis en seekos meer bekostigbaar maak vir die publiek en die druk op natuurlike visbronne verlig.
Akwakultuur kan ‘n belangrike rol speel in voedselsekuriteit en voedselsoewereiniteit. Dit beteken om genoeg gesonde voedsel te hê wat kultureel-aanvaarbaar is en op ‘n volhoubare wyse geproduseer is.
Die groei van die Suid-Afrikaanse akwakultuurbedryf het die potensiaal om beduidend by te dra tot ekonomiese aktiwiteit, verligting van armoede, bemagtiging, indiensneming en die volhoubare benutting van kus- en binnelandse bronne tot die voordeel van plaaslike gemeenskappe.
Vir die Suid-Afrikaanse akwakutuurbedryf om te groei is ‘n omgewing nodig wat dit bemagtig. Dit beteken wetgewing, beleide, handelsooreenkomste en infrastruktuur om die visprodukte te beweeg van die boere na die markte. Beter wetgewing, projekbefondsing, opleiding, mentorskap en uitbreidingsdienste sal akwakultuurboere help om met die regte spesies te begin binne die regte boerderysisteme, boerdery verbeter, opbrengs verbeter en sal markte bou vir varswater akwakultuur in Suid-Afrika.
Translated by Elna Van Rhyn