Varkgriep
© National Pork Board, USA
Klassieke Varkgriep en Afrika-varkgriep is twee van die mees gevreesde varkgriep-virusse ter wêreld. Volgens Dr. Mary-Louise Penrith se artikel, History of ‘swine fever’ in Southern Africa, word die siektes veroorsaak deur twee verskillende virusse wat dieselfde simptome het en dit dus moeilik maak om tussen hulle te onderskei. Beide is hoogs aansteeklik en dodelik. Dit het ’n sterftesyfer van tot 100% in gevalle. Varke wat die siekte oorleef bly aansteeklik.
Simptome
Die simptome is nie spesifiek nie en kan maklik met ander siektes verwar word. ’n Uitbraak moet dus met laboratoriumtoetse bevestig word. Die siekte veroorsaak gewoonlik hoë koors en ’n vinnige dood. Boere moet volgens wet enige vermoede van ’n uitbraak aan hulle plaaslike staatsveearts of dieregesondheid tegnikus rapporteer. Die uitbraak sal dan ondersoek word en monsters sal vir laboratorium analise geneem word.
Simptome ontwikkel gewoonlik vyf tot nege dae na blootstelling aan die virus.
Volgens die Suid-Afrikaanse Varkprodusente-Organisasie se Pigs for Profit handleiding is die mees opmerkbaarste simptome:
’n Hoë koors wat ’n paar dae voor die ander simptome ontwikkel
’n Groot aantal varke van verskillende ouderdomme wat sterf
Varke wat binne een tot tien dae na die eerste simptome sterf
Varke wat nie wil eet nie
Lusteloosheid, met varke wat slegs wil lê
Die ore, bene en onderkant van die maag wat eers rooi en dan pers word
Afskeidings uit die oë en snoet
Braking, diarree en hardlywigheid
Vinnige asemteue en sukkel om asem te haal
Swakheid van die agterbene en die varke loop moeilik
Pyn in die maag
Dragtige sôe aborteer skielik
Hoe word varke besmet?
Varke word besmet wanneer hulle in kontak met speeksel, urine, bloed of mis van besmette varke kom. Dit gebeur ook as hulle in kontak kom met mense, gereedskap, voertuie of klere wat met die siekte besmet geraak het. Afrika-varkgriep word ook deur sagte bosluise oorgedra.
Behandeling
Daar is geen behandeling nie. Entstowwe teen Klassieke Varkgriep is nog nie in Suid-Afrika beskikbaar nie en bestaan nog nie vir Afrika-varkgriep nie. Sodra ’n uitbraak bevestig is, word alle besmette en gesonde varke in die boerdery, in ’n proses wat na verwys word as “stamping out”, vernietig.
Boere moet nie op hulle eie “stamping out” probeer nie aangesien daar behoorlik van al die varke op die besmette persele ontslae geraak moet word. Die deeglike skoonmaak en ontsmetting van die areas is ook nodig. Die virus kan maande lank op ’n perseel oorleef indien dit nie behoorlik uitgeroei is nie.
’n Geaffekteerde varkboerdery word in kwarantyn geplaas om die verspreiding van die siekte by ander boerderye te voorkom. Onder geen omstandighede mag varke of hulle produkte verkoop word nie. Niks mag vanuit die kwarantyn verwyder word as daar ’n uitbraak vermoed word nie.
Voorkoming
Streng biosekuriteit maatreëls is nodig om te voorkom dat gesonde varke in aanraking kom met moontlike besoedeling soos mense, gereedskap, voertuie, voer, klere en siek varke. Kombuis- en tuinafval moet ten minste ’n uur lank gekook word om te verseker dat dit nie hierdie virusse bevat nie, selfs kombuisafval wat net groente bevat omdat dit dalk in was kontak met rou vark.
In Suid-Afrika is daar in Limpopo, Mpumalanga, Noordwes en KwaZulu-Natal spesifieke Afrika-varkgriep beheermaatreëls aangesien die siekte gereeld onder wildevarke voorkom. Om te voorkom dat die siekte na onbesmette gebiede in die land versprei is daar beperkings op die rondbeweeg in hierdie gebiede.
Alhoewel hierdie virusse nie mense aantas nie, moet besmette vark nie geëet word nie. Die hoë koors en bloeding wat met die virusse geassosieer word sal die vleis se smaak onaangenaam en ongeskik vir menslike gebruik maak.
Translated by Ananda Schoeman