Die maatskaplike werker wat my dogter Phyllis gespreek het, het eendag vir haar gesê: “Bring jou ma hierheen. Sy moet ‘n ondersteuningsgroep bywoon.” Op daardie stadium het professor Monica Ferreira en andere van die Universiteit van Kaapstad hulle akademiese navorsing gedoen oor die lewens van oumas in Suid-Afrika.
Die maatskaplike werkster het vir my gesê om met hulle in aanraking te kom en die ondersteuningsgroep by te woon wat hulle georganiseer het. Dit was hulle poging om die oumas te help in ruil daarvoor dat ons hulle alles oor ons lewens vertel.
Wel, ons het ons ondersteuningsgroep begin aan die agterkant van Michael Mapongwana Hospitaal in Khayelitsha, langs die polisiestasie. Aan die begin was daar sewe oumas in die groep. Toe kom daar drie by, sodat ons tien was.
Ons het elkeen R10 bygedra en ‘n bankrekening geopen in die naam GAPA, Grandmothers Against Poverty And Aids, sodat ons geld bymekaar kon maak wat ons wou gebruik om onsself te help. Ons het die naam GAPA versigtig gekies, gedagtig aan ons probleme.
Soos die ondersteuningsgroepe aangegroei het, het ons groepe in ons eie huise begin wat eenmaal per week bymekaargekom het. Ons het ook ander oumas genooi om aan te sluit. Ons het hierdie groepe ‘psigososiale groepe’ genoem waar ons geluister, gedeel en ons stories vertel het.
By GAPA het ons ook geleer hoe MIV werk, en wat om te doen as ons seuns en dogters terugkom van die hospitaal en ons vertel dat hulle MIV positief is. Normaalweg sou ons by die aanhoor van sulke nuus oorstelp gewees het deur smart en woede, maar ons kan dit nie toelaat nie, want dan is ons van geen nut vir onsself of ons kinders nie.
Ons het besluit wat ons nodig het om te leer in werkswinkels om ons te bemagtig om met ons daaglikse lewens voort te gaan. Daar was al baie geleenthede, sedert die stigting van GAPA, wat dit my staande en lewend gehou het en die krag gegee het wat ek nodig gehad het om aan te gaan.
Translated by Elna Van Rhyn