Ek het eers na GAPA toe gegaan en net voor die tv gesit, verlam deur my pyn. Die GAPA oumas het my gered. Goldie Qayiya was een van die vroue wat met my kom praat het, en my vertel het dat haar drie kinders ook dood is. Sy het gesê, ‘Alicia, my jongste seun is dood toe ek hom winkel toe gestuur het en die weerlig hom doodgeslaan het. Toe sterf my oudste seun, Vusi, aan Vigs.
Ek was langs sy bed toe hy gesterf het; dit het my hart gebreek. Toe sterf my Thumela aan Vigs. Ek het hulle al drie begrawe.’ Terwyl sy my haar storie vertel het, het sy gehuil en ek het besef dat ek nie alleen was nie. Toe dink ek, ‘My wêreld sal nie in duie stort nie; God is met my ook.’ Stadigaan het ek weer Alicia begin word.
As ek bekommerd is by die huis, gaan ek na die GAPA toe en vertel hulle daarvan, hulle wat my gerusstel en raad gee wat ek nodig het. Ek sal nooit die GAPA verlaat nie. Dis diep in my hart. My beste vriendin by GAPA is Constance Sohena. As ek ‘n krisis beleef, gaan ek na haar huis. Eers kniel ons en bid, en dan vertel ek haar wat my pla. Sy is die vrou wat ek die meeste vertrou.
Ek hou daarvan om GAPA toe te gaan. Dis ‘n groot hulp in my lewe. Daar praat ons baie oor ons bekommernisse en sommer gou het jy vergeet dat jy hoegenaamd enige bekommernisse gehad het. Hierdie een sê dit, daardie een sê dat, en gou-gou lag ons almal saam.
Ek het altyd elke dag gegaan as die kinders by die skool was. Maar nou is my bene seer van artritis en ek kan nie meer daarheen loop nie. En somtyds as jy daar is wil jou vingers ook niks vashou nie. As ek by GAPA is brei ek komberse en teddiebere.
Ek maak ook mfitshi-mfitshi, wat beteken ‘stukkies en brokkies’, die Xhosa-woord vir laslappies. Soms werk ek met die masjien en soms werk ek met die naald en gare. Ek het die kussings op my bed self gemaak. Sommige goed wat ek nie kon doen toe ek jonk was nie, leer ek om te doen noudat ek oud is.
Translated by Elna Van Rhyn