‘Tandpyn’ by wingerd word veroorsaak deur die swam Eutypa lata. Tandpyn, wat deur die swam Eutypa lata veroorsaak word, het houtverrotting met gevolglike terugsterwing van wingerde tot gevolg. Die mees kenmerkende simptoom van tandpyn by wingerd is kort-lit lootjies met klein blaartjies.
Kordonne van swaar besmette stokke kan terugsterf en trossies droog gewoonlik op. Indien die kordon deurgesaag word kan die driehoekvormige dooie hout gesien word. Die Eutypa-swam kan die stok binnedring deur die oop snoeiwonde. Tandpyn of houtverrottende swam kan beheer word deur die stokke direk na snoei met ’n chemiese middel of Trichoderma te spuit.
Indien dit begin reën tydens snoei moet die snoeiproses gestop word want nat snoeiwonde bied toegang vir die swam. Snoeiskêre behoort elke oggend voor snoei met ’n gepaste steriliseermiddel gewas te word en alle geïnfekteerde hout moet verwyder en onmiddellik verbrand word om inokulum in ‘n wingerd te verminder.
‘Black Goo’ is een van verskeie stamsiektes wat tans in Suid-Afrika voorkom. ‘Black goo’, Petri-siekte of “stadige terugsterwing” by wingerd dui almal op dieselfde siekte. Die swam kom endofities of latent in onderstokmatriaal voor en die siekte ontwikkel wanneer plante onder stres verkeer, soos ná die entproses.
Dit word deur snoeiwerk versprei. Daar is tans geen behandeling vir hierdie siekte nie, maar behandeling van entjies en onderstokke met warmwater voor ent lewer goeie resultate. Die siekte kan op verskillende maniere verhoed word, deur onder meer die allerbeste plantmateriaal wat geënt is, te vestig.
Jong stokkies en wortels moenie tydens planttyd te veel ingekort word nie en plantgate moet diep wees sodat wortels nie opkrul wanneer dit geplant word nie.
By Marinda Louw