Die Sosiale Stigma Van MIV/Vigs

© Eric Miller
Alicia Mdaka, die alleenversorger van haar hele familie, deel haar pyn en gebelgdheid oor die verlies van haar kinders en kleinkinders weens MIV/Vigs en dat daar na haar huis verwys word as ‘die Vigs huis.’

Die ‘Vigs Huis’

In 1964 het ek ‘n baba genaamd Olive gehad. In 1966 het nog een gekom – Phyllis, die een wat nou in haar vyftiende jaar met MIV/Vigs is. Kenneth is in 1969 gebore en Prudence, wat gesterf het aan Vigs, nes Olive, is twee jaar later gebore. My kleindogter, Zizipho, is gebore met MIV omdat haar ma, Prudence, MIV gehad het. Agter my rug het die bure na my huis begin verwys as ‘n ‘Vigs huis’.

My kleindogter Juliette het hulle hoor praat en my daarvan vertel. Daardie bure het vir my kleinkinders gesê, ‘Ons wil nie hê julle moet met ons kinders speel nie. In julle huis is daar te veel Vigs, en julle sal ons kinders aansteek.’ Dit was ‘n tyd toe mense baie min van Vigs geweet het en almal was baie bang daarvoor. Nou is dinge anders.

Ons het almal mense geken wat dood is, meestal in ons eie families. Deesdae, as een van my familielede siek is, selfs met Vigs, bring die vroue van my kerk vir my sop en maaltye en gesels met my daaroor. Daar is nie meer dieselfde eensaamheid as vantevore nie. Nou het ons ondersteuning. Vir 15 jaar stry my dogter Phyllis al teen hierdie Vigs. Sy het vir baie lank uiters middelweerstandige tuberkulose gehad en was vir baie maande in die hospitaal.

Nou sê die dokters sy is genees van die TB, maar sy het maag-en lewerkanker. Net ‘n paar maande gelede het sy vir my gesê dat sy nie meer lank op aarde sal wees nie. Dit het my weer van voor af in depressie gedompel.

Translated by Elna Van Rhyn