My oudste kleinkind, Sandiswa, is 18 jaar oud en blind. Toe sy 14 was, het sy groot sere op haar kop begin kry. Dit was die eerste teken dat sy MIV gehad het. Ek is bereid om dit te sê want ek het die diagnose aanvaar. Dis baie belangrik om so ‘n diagnose te aanvaar voordat jy dit behoorlik kan hanteer.
As daar enige stigma in ons gemeenskap is, kan ek dit hanteer. Ek is sterk op hierdie manier. Ons het Groote Schuur Hospitaal toe gegaan, die groot staatshospitaal in Kaapstad, toe Sandiswa gediagnoseer is, en die dokters het ons vertel dat die virus vêr gevorderd was. Sy gebruik nou al ‘n tyd lank antiretrovirale middels, maar sy het nie altyd haar medikasie korrek gebruik nie.
Die dokters sê dis waarom sy blind geword het. Ons was Donderdag weer by die dokter. Hy het gesê dat sy TB (Tuberkulose) het, maar dat sy genees kan word. Sy is baie maer en siek en so depressief dat sy nie meer praat nie, nie eens met haar neefs en niggies nie. Sy draai net haar kop weg.
Sandiswa gaan na die skool vir blindes toe in Worcester, wat goed is vir haar. Oor naweke kom sy terug na my toe. Ek kyk na haar, was haar wasgoed en help haar met alles wat sy nodig het. Dis ‘n groot werk. Soms oorweldig my laste my. Om na my kleinkinders te kyk is ‘n reuse verantwoordlikheid, en ek het diabetes, hoë bloeddruk en artritis.
Dikwels is ek so oorweldig deur die hartseer oor wat met my familie gebeur het, dat al wat ek kan doen, is huil. Hierdie sort pyn gaan nie weg nie. As jy daaraan dink, kom dit terug met mening. My seun Andile het MIV, maar hy het dit openbaar gemaak en is ‘n aktivis. Dit gaan goed met hom. Hy gaan na klinieke om mense wat getoets word met raad te bedien. Hy is sterk.
In my daaglikse lewe is ek sterk. Die mamas by Grandmoters Against Poverty and Aids help my regtig. Ons ondersteun mekaar soveel dat ek mal is daaroor om na die GAPA toe te gaan. Ek leer daar dat ons almal dieselfde probleme het.
Ons gee mekaar raad en help mekaar. Maar daar is tye dat ek nie kan gaan nie omdat net ek hier is om na my kleinkinders te kyk en hulle het my nodig – veral Sandiswa. Daar is net twee belangrike dinge in my lewe: om seker te maak dat ek na my kleinkinders kan kyk en my werk as ‘n sangoma. Niks anders is meer belangrik vir my nie.
Translated by Elna Van Rhyn