Die wingerdstok is ’n rankplant in sy natuurlike vorm wat, indien dit nie gesnoei word nie, wel druiwe sal dra, maar baie klein trossies. Deur die wingerd korrek te snoei, kry die stok die gewenste vorm en word die kwaliteit asook oes en trosgrootte beheer. Snoei kan ook aangewend word om groeikrag te manipuleer.
In die snoeiproses word die deel van die loot wat reeds druiwe gedra het verwyder, asook alle ongewenste lote op die stok aangesien trosse slegs gevorm word op ’n eenjarige loot wat op twee jaar oue hout sit. Snoei word in die wintermaande verrig. Die hoofdoel van snoei is om die gewenste stokvorm vir die wingerdplant te kry en te behou vir so lank moontlik.
Sodoende word die priëel of opleisstelsel optimaal benut. Tweedens verseker die korrekte snoei dat ’n goeie oes van hoë kwaliteit gelewer word. ’n Goeie stokvorm is belangrik, want dit vergemaklik bewerking en die optimale benutting van die opleistelsel en derhalwe ‘n goeie benutting van sonlig en lug. Trosse word ook meer eweredig versprei op die stok.
Verder word verhoogde oogvrugbaarheid verkry en verseker dit ook goeie balans tussen wortel en lootgroei. Die snoeimetode en lengte van die draer kan wissel van wingerd tot wingerd of dit kan ook wissel van kultivar tot kultivar afhangende van die area en waarvoor die druiwe aangewend gaan word.
Kort draer: in die praktyk kom dit voor as ’n een of twee-oog draer. Hierdie snoeistelsel word oorwegend by wyndruiwe gebruik. ’n Kortdraer wat ook ’n ‘tappie’ genoem word, word hoogstens na die tweede oog bokant die basis-oog geknip. Halflang draer: word meestal by tafeldruiwe gebruik of waar ’n hoër produksie van ’n spesifieke kultivar vereis word.
Dit kan ook gebruik word om baie geil wingerde se groeikrag te benut deur meer draer-oë per stok te gee. Die bekende Guyot-stelsel wat algemeen in kouer Europese lande gebruik word, word by minder vrugbare kultivars soos Cabernet, Pinot Noir en Sauvignon Blanc aangewend.
Dit verg die snoei van slegs een of twee lote van agt oë per stok, elk met ’n kortdraer by die basis vir vernuwing die volgende seisoen. Baie kundige snoeiers word benodig. Lang draer: word hoofsaaklik by Sultana-druiwe gedoen en bestaan uit 12 - 15 oë. Die voordeel van hierdie stelsel is dat dit goeie oeste verseker by die meeste tafel en droogdruif-kultivars.
’n Groot nadeel is dat heelwat hande-arbeid benodig word. Meganies: die metode van meganiese snoei wat die meeste gebruik word, is horisontale en vertikale lemme, maar daar is ook ander vorme van meganisasie soos lugdrukskêre wat die snoeiproses aansienlik kan versnel.
Bosstok: beginsels vir kort of langdraersnoei geld ook vir bosstokke, maar draers word doelbewus na ’n buite-oog gesnoei. Dit is belangrik om die middel van die stok oop te hou en ’n sokkerbal behoort hierin te pas.
Voorsnoei (Eng: hedging) ook genoem ‘borselkopsnoei’ is wanneer die boonste gedeelte van die lote weggesny word en uit die drade getrek word.
Dit begin sodra die blare minstens 50% begin val en die lote reeds rypgemaak is of verhout het. Voor of borselkopsnoei vergemaklik die latere snoeiproses en kan meganies of deur onopgeleide werkers gedoen word. Wanneer die langdraer-snoeimetode gebruik word is hierdie metode nie nodig nie.
Skoonsnoei begin wanneer alle lootgroei wat nie vir draers gebruik gaan word nie, verwyder word. Hiermee kan begin word sodra die blare minstens 50% begin val en die lote reeds ryp-gemaak is of verhout het. Stompsnoei is die finale proses van snoei wanneer die tappe (lote) na die regte hoeveelheid oë teruggesny word.
Die tyd van snoei is belangrik. Normaalweg begin snoei wanneer al die wingerd se blare afgeval het; gewoonlik vanaf vroeg in Junie. Normaalweg geld die reël dat vroeë snoei groeikrag bevorder, terwyl laat-snoei vrugbaarheid verhoog en dus groter produksie verkry word.
Laat snoei – wanneer lote reeds op hul punte begin uitbot het – kan bot met twee tot drie weke vertraag en kan dus nuttig gebruik word in gebiede waar rypskade gereeld voorkom. Laat stompsny in Augustus kan verhoogde uitbot meebring. Geilgroeiende wingerde kan weer baie vroeg, net na die oes, borselkop gesnoei word, terwyl die blare nog aktief is.
Dit word gedoen om reserwes te verlaag en die groei in die volgende seisoen te demp. By sommige kultivars soos Hanepoot, is die ideaal om ’n in een aksie skoon en stomp te snoei.
Hierdie aspek is vir sommige produsente baie belangrik en daar word vooraf aan die snoeiers gesê waar die knip-snoeilote gegooi moet word. Oopgestrooi in die middel van die ry, waar dit later deur ’n stokkiekapper fyngekap word om as deklaag te dien. Opgeknip en op die bankie gestrooi.
Die bankie is die grondstrook direk onder die wingerdry. In elke tweede ry gegooi – gewoonlik ’n ry waar nie dekgewasse gesaai is nie – om later opgekap te word deur ’n stokkie-kapper vir deklaag.
Die snoeiwonde waar lote afgeknip is word na snoei teen swamme behandel. Die hantering van swambeheer tydens snoei verskil baie van plaas tot plaas, maar dit is baie belangrik dat daar nooit op reëndae gesnoei moet word nie. Voorbeelde van swambeheer is: Steriliseer van skêre aan die einde van elke ry.
Spuit van ’n swamdoder-oplossing direk na snoei op snoeiwonde. Smeer van ’n wondseëlmiddel op snoeiwonde wat groter as 50c is. Die aanspuit van Trichoderma - ’n baie goeie manier om snoeiwonde te beskerm direk na snoei.
Om ’n snoeiskêr gereed te kry vir die seisoen en sy lewensduur te verleng, onthou die woord SPARS, waar elke letter ’n belangrike taak verteenwoordig: S staan vir Skoon. P staan vir Papie. Die papie moet altyd ’n goeie veerkrag hê en moet ook skoon gehou word en lig geolie word.
A staan vir Aambeeld. Verseker dat dit nie beskadig is nie en dat dit korrek geslyp is. R staan vir Reg gestel. ’n Skêr wat verkeerd gestel is, maak jou moeg en beskadig die toerusting. S staan vir Skerpmaak van die lem. ’n Lem wat teen die regte hoeke geslyp is, verhoog produktiwiteit en verseker skoon snitte. Die lem word skoongehou gedurende snoei deur dit gereeld af te vee.
Translated by Marinda Louw