Roosmaryn Verbouing

Voortplanting

©Louise Brodie
Roosmaryn plant met saad voort, maar kan ook met steggies gekweek word.
Sny steggies van 20 cm lank van 'n vars bos af en stroop die onderste blare af. Sit die steggies in die water met die gestroopde dele onder die water. Wanneer jy genoeg steggies het, kan jy die plantmedium regkry. Dit is gewoonlik 'n mengsel van sand en potgrond in 'n 500 ml plantsak. Doop die roosmaryntakke se nat punte in 'n planthormoon mengsel en plant dit in die plantmedium.

Plantmetode

Groot kommersiële produseerders plant gewoonlik saailinge aan wat in 'n kweekhuis gekweek is. Die sade word ongeveer 8-10 mm diep in saadkassies geplant. Wanneer die sade ontkiem en sterk saailinge gegroei het, word dit uitgeplant in die land. Roosmarynsaad het 'n lae ontkiemingskoers, en derhalwe moet vier keer meer saad gesaai word as die uiteindelike hoeveelheid plante wat benodig word. Die saad is nie duur nie. Wanneer die verskillende variëteite goed gevestig is, is dit goeie praktyk om nuwe plante van steggies te kweek om dooie plante mee te vervang.

Spasiëring

Roosmarynplante moet 30 cm uitmekaar in rye 50 cm van mekaar geplant word. Dit is ongeveer 60 000 plante per hektaar. Paadjies word oopgelaat vir werktuie en trekkers sodat die land bestuur en geoes kan word.

Saaityd

Saai roosmarynsaad in Junie in saadkissies wat in 'n beskermde omgewing of 'n kweekhuis gehou word. Teen vroeg lente behoort die saailinge sterk genoeg te wees om in die land uitgeplant te word.

Planttyd

Plant die roosmaryn saailinge in die vroeë lente. In Suid-Afrika is dit laat Augustus en vroeg September.

Groeiperiode

Roosmaryn saailinge behoort na agt tot tien weke in die kweekhuis sterk genoeg te wees om uit te plant. Sommige produseerders oes so vroeg as twaalf weke na uitplanting reeds die nuwe groeipunte vir vars gebruik. Daar moet egter gesorg word dat die plant nie te veel geoes word tydens die eerste jaar nie, aangesien dit die ontwikkelling van die plant sal vertraag. Vol oeste begin gewoonlik 12 tot 15 maande na beplanting. Roosmarynplante kan vir tot 15 jaar geoes word indien dit ordentlik bestuur word.

Bemesting

Voordat roosmaryn geplant word, moet 'n verteenwoordigende grondmonster geneem en vir analise gestuur word. Dit sal die grondtipe en voedingstofvereistes vir die bedoelde gewas identifiseer.
Die volgende aanbeveling kan rofweg gebruik word indien 'n grondanalise nie gedoen word nie. Dien aanvanklik 600 kg 3:1:5 toe en werk dit in die boonste 20 cm van die grond in voor die roosmaryn saailinge geplant word. Dit sal help dat die saailinge hulself goed vestig. Gedurende die eerste 12 maande is dit veral belangrik dat die plante aanhou groei, dus kan 'n verdere twee toedienings van 400 kg 3:1:5 langs die plantrye gemaak word, een in Desember en nog een in April. Verkieslik moet daar na elke oes kunsmis toegedien word. Moet egter nie te veel kunsmis toedien nie, aangesien dit die sterkte van die geur kan verminder.

Besproeiing

Hoewel roosmaryn as 'n geharde plant beskou word, is dit nie goed om die plant onder spanning te plaas deur te veel of te min te besproei nie. Oorbesproeiing kan wortelsiektes veroorsaak, terwyl onderbesproeiing groei en produksie kan belemmer.
Dit is derhalwe verkieslik om vogmeters te installeer om voortuderend die grond te monitor. Besproeiingsvolumes sal verskil van land tot land, afhangende van grondtipes en die weer. 'n Goeie gemiddelde is 25-35 mm per week gedurende die warm somermaande, wat verminder word gedurende die koeler tye of reënmaande van die jaar. Moenie die plante natmaak in die week voor dit geoes word nie, maar besproei onmiddellik na die oes om optimale vogvlakke van die grond te verseker.

Translated by Rentia Pretorius