Die Richtersveld se Trekboere

Wie was die Trekboere?

©Shem Compion
So, wie was die Trekboere nou eintlik? Aanvanklik is alle Europese boere verplig om binne ’n sekere afstand van die Kasteel in die Kaap te woon sodat die alomteenwoordige Kompanjie ’n oog oor hulle kon hou. Teen die vroeë 1700’s het die nedersetting egter sy verskaffers ontgroei en bykomende grond moes bekom word om die groter vraag na kos en vleis te beantwoord. Die wit boere is dus toegelaat om nuwe grond anderkant die berge te gaan opeis.
Dit was die begin van die Trekboere (letterlik reisende boere) en hierdie geharde Europeërs het orals rondom die Kaap begin rondtrek. Later is hierdie grondeise geformaliseer in ’n stelsel van leenplase. Dit het boere toegelaat om groot grondgebiede, in ruil vir ’n lae jaarlikse huurgeld aan die Kompanjie, te eis. Inheemse grondregte is natuurlik geïgnoreer. Selfs die semi-respektabele Basters is gedwing om hulle grond af te staan as hulle met ’n wit boer se eis gekonfronteer word.

Wit Uitbreiding

So het die Trekboere begin versprei, eers in die vrugbare Overberg in die ooste en later in die noordoostelike gebied Waveren. Namakwaland, met sy droë klimaat, is aanvanklik nie deur hierdie wit uitbreiding geraak nie. Baie Khoikhoi en Baster-groepe is egter later deur die Trekboere van hulle grond verstoot en hulle het gevolglik noord beweeg. Dit het addisionele druk op die grond en politieke integriteit van die Namakwa geplaas.
Binnekort het die Trekboere en Nederlandse owerhede aan die Kaap ook betrokke geraak by die nominasie en aanstelling van Khoikhoi-hoofmanne, selfs om hulle met ’n koper toekenning te bekroon vir hulle samewerking en ondersteuning in ruilhandel ondernemings. Dit het verder die tradisionele Khoikhoi hiërargieë ondermyn. In die 1750’s het die eerste Trekboere Namakwaland binnegekom en groot stukke grond vir hulleself geëis.

Kompetisie vir Grond

©Shem Compion
In die praktyk was hierdie Europese boere nie baie anders as die inheemse nomadiese boere wat die land voorheen besit het nie. In die droë Namakwaland-streek het die meeste van hulle byvoorbeeld die tradisionele matjieshuise as behuising aangeneem. Hulle het ook met hulle diere rondgetrek en saam met die seisoene rondbeweeg om die beste weiveld te soek. Dit is duidelik dat daar ’n direkte mededinging met die Namakwa-herders was vir die skaars natuurlike hulpbronne.
Die Europese boere het egter God en die regering aan hulle kant gehad en met hulle Westerse konsep van privaat grondbesit het hulle onverbiddelik die platteland ingeneem. Die Namakwa, Boesmans, Khoikhoi-vlugtelinge en Basters is al verder noord verdryf waar hulle onder mekaar konflik gehad het. Hulle tradisionele nomadiese leefstyl is beperk en sommige het opgegee en as dienaars of arbeiders op die Trekboere se plase begin werk.

Inheemse Reservate

Ander het na die relatiewe veiligheid van die sendingstasies of afgeleë plekke van toevlug wat inheemse reservate genoem is teruggetrek. Die gebiede veral rondom die Leliefontein sendingstasie in die Kamiesberg en in die Richtersveld, wat tot 1947 buite die grense van die Kaapse kolonie was, was veral gewild. Vandag bestaan hierdie gemeenskaplike gebiede uit 25% van Namakwaland en bevat 40% van die bevolking.
Sommige groepe het selfs afvallig geword en die krale en dorpe van hulle bure begin aanval. Die hele Oranjerivier grensgebied het trouens gedurende hierdie tydperk ietwat van ’n “Wilde Weste” geword. Daar was dosyne rowerbendes van verskeie rasse wat in die gebied rondbeweeg het en moeilikheid veroorsaak het.
Een besonder onaangename voorval wat in die kollektiewe geheue van Namakwaland plaasgevind het, het in die middel van die 1800’s plaasgevind toe 'n ernstige droogte die gebied geteister het. Gevolglik het die mense van die Steinkopf sendingstasie hulle gesinne en kuddes na ’n klein spruitjie omtrent 15 km verder verhuis. Een Sondag terwyl die volwassenes by die kerk was het ’n groep Boesmans die kamp binnegeval en 32 Nama-kinders vermoor. Hierdie terrein word slegs gekenmerk deur ’n eenvoudige grafsteen en is net bekend as Kinderlê.

Translated by Ananda Schoeman