Die Richtersveld se Jagters en Ontdekkingsreisigers
Ontdek, Versamel, Ruil
Nie al die Europeërs wat na Namakwaland toe gekom het was op verowering gefokus nie. Baie het na die streek gekom om te ontdek, jag, versamel en ruilhandel te bedryf. Johannes Rhenius het byvoorbeeld in 1721 en 1724 op twee onsuksesvolle ruilhandel missies na Garies gegaan. Toevallig was Rhenius Olof Bergh se skoonseun. Bergh het in 1682 die noordelike “hoofweg” tot stand gebring.
Die verskeie jagters wat in die streek rondgegaan het is moeiliker om te identifiseer. Hulle het nie dagboek gehou nie en het dikwels sonder toestemming gereis. Nieteenstaande was lede van hierdie jagtogte moontlik die eerste wit mense wat die Oranjerivier gesien het. Daar word beweer dat dit so vroeg as 1728 was.
’n Groep jagters van Piketberg het skelm op ’n uitgebreide jagtog na die noorde gereis. Hier het hulle op die wye rivier, wat by die plaaslike bevolking as die !Gariep (Grootrivier) bekend gestaan het, afgekom. Hulle het blykbaar ook ’n ander wit man, ’n olifantjagter genaamd Pieter de Bruyn, daar op die oewer ontmoet. Hierdie inligting kan egter nie bewys word nie.
Vir al die Verkeerde Redes
‘n Ander ekspedisie in 1739 het dit ook in die offisiële rekordboeke gemaak, maar vir al die verkeerde redes. Hierdie groep jagters het die Oranje na Groot Namakwaland (Namibië) oorgesteek. Hulle het daar ’n maand lank by die stamhoof Gal se kraal aangebly. By hulle vertrek het hulle hulle werkers oorgehaal om, in ruil vir ’n deel van die profyt, die kraal aan te val en die vee te steel. Met hulle reis deur Klein Namakwaland het hierdie skrikbewind voortgegaan. Meer as 1000 vee is gesteel en baie vrouens en kinders is vermoor. Al hierdie dinge het aan die lig gekom nadat verteenwoordigers van die verontregte partye na die Kaap gereis het om te protesteer. Selfs die werkers wat die aanvalle geloods het, het gekla dat hulle nie die vee wat aan hulle beloof is gekry het nie. In die lig van die populêre steun vir die jagters, het die Kompanjie besluit om die gesteelde vee te konfiskeer en dit vir hulleself te hou.
Die eerste offisiële besoek aan die !Gariep is aan Jacobus Jansz Coetse te danke wat in 1760 daarheen gereis het. Hy was ’n boer van Piketberg wat sy vrou by die huis gelos het om olifante te gaan jag. Coetse het deur Namakwaland met twee waens en twaalf Khoikhoi tot by die oewer van die !Gariep gereis. Hy het die rivier by Ramansdrift naby Gudaos, wat skaap drif beteken, oorgesteek. Dit was ’n rivierkruising wat dikwels deur die Namakwa-herders gebruik is en dit staan nou bekend as Goodhouse. Op hierdie beskeie manier het Coetse die eerste wit persoon geword wat sy reis oor die laer Oranjerivier tot in die land van die Groot Namakwa gedokumenteer het.
‘n Semi-Offisiële Ekspedisie
Na Coetse se reis is daar besluit om ’n semi-offisiële ekspedisie na die noordelike deel van die !Gariep te stuur. Hierdie ekspedisie is deur Hendrik Hop gelei en hy het in 1761 met 15 waens vertrek. Jacobus Coetse het as gids saamgegaan en Carel Brink het as skrywer opgetree. Volgens Brink was die Namakwa wat hulle langs die pad ontmoet het arm met min vee en hulle is dikwels deur die “Bosjesmans” aangeval. Die ekspedisie het die rivier by Gudaos oorgesteek en noordwaarts na die Keetmanshoop area gereis. Hier moes hulle egter terugdraai weens die warm en droë somer kondisies.
’n Ander lid van die Hop ekspedisie, Dr. Carel Rykvoet, het die geleentheid gebruik om sekere mineralogiese ondersoeke in die area te doen. Hy het Van der Stel se Koperberge ondersoek en verklaar dat die opbrengs baie klein is. Hy het dit ook verder in die Richtersveld, wes van Gudaos, gewaag waar hy koper gevind het - tot een derde koper. Hy het egter besef dat die rotse te hard, die land te onherbergsaam en die afstande te ver is om die minerale te ontgin.
Translated by
Ananda Schoeman