Die Richtersveld se |Haru Oms
Praktiese Behuising
Die basiese huis van die Khoikhoi was ’n koepelvormige hut genaamd ’n |haru oms (matjieshuis). Hierdie hutte was gemaak van ’n sirkelvormige raamwerk groen takke wat in die grond gesteek is, boontoe gebuig is en vasgemaak is met dun stroke leer. Dit is dan bedek met handgemaakte matte gemaak van riete wat saam geweef is. Dit was die mans se werk om die rame te bou terwyl die vrouens die rietmatte gemaak het.
Die |haru oms was baie prakties. Die materiaal wat vir die konstruksie gebruik is was orals in die gebied beskikbaar. In die somer het die rietmatte lug deurgelaat en skaduwee verskaf. In die wintertyd is ekstra matte of dierevelle bo-oor gesit om die hitte binne te hou. As dit gereën het, het die riete van die water opgeswel en sodoende die hutte waterdig gemaak. Die ronde vorm van die haru oms het sterk winde weerstaan. Dit is dus ’n seldsame voorbeeld van stylvolle funksionaliteit.
Geskik vir die Omgewing
Die haru oms was ook draagbaar. As dit dus tyd was om te trek is die matte eenvoudig opgerol en na die volgende plek verskuif. Die raamwerke is gewoonlik agtergelaat om die volgende seisoen weer gebruik te word. Al die familielede was egter nie altyd in staat om deel van hierdie jaarlikse migrasie te wees nie. Die baie jong kinders en bejaardes het dikwels in permanente statte gebly wat meer as 100 mense kon insluit.
Hierdie gemeenskappe het ook gebruik gemaak van |haru oms, alhoewel die hutte nie verwyder is tensy hulle vervalle was nie. Die haru oms was so geskik vir die omgewing dat dit selfs deur die eerste wit setlaars wat in die gebied ingetrek het gebruik is. Dit het tot in die 1900’s die algemeenste vorm van behuising in Namakwaland gebly.
Vandag is die Richtersveld die enigste plek in die wêreld waar jy steeds haru oms sal kry. Dit word deur die nomadiese veeboere wat in die Richtersveld Bewarea woon gebruik. Jy kan selfs ’n paar in die moderne gemeenskappe in die tuin langs ’n netjiese baksteenhuis sien. Hierdie moderne voorbeelde word weliswaar aangevul deur hedendaagse materiale, soos plastiek, maar dit getuig steeds van ’n deurlopende argitektoniese tradisie wat oor baie honderde jare heen strek.
In Gevaar om Vergeet te Word
Ongelukkig is die kuns van die haru oms in gevaar om vergeet te word en slegs ’n handjie vol Nama-mense wat in die Richtersveld woon het die nodige vaardighede.
Dit is egter ’n vorm van inheemse kennis wat bewaar moet word en daar is voortdurend pogings om hierdie kennis aan die nuwe geslagte oor te dra. Onlangs het ’n groep Namas van die Richtersveld die grens na die Gamaseb-gemeenskap in Namibië oorgesteek om hulle nageslagte weer te leer hoe om hierdie tradisionele matjieshuise te maak. Die jong mense in die Richtersveld word ook aangemoedig om hierdie tegniek aan te leer.
Daar word gehoop dat toerisme en die aanwysing as Wêrelderfenisgebied, deels as gevolg van die haru oms, hierdie program ekstra woema sal gee.
Translated by
Ananda Schoeman