Pietersielie

© Louise Brodie

Wetenskaplike naam: Umbelliferae
Algemene naam: Pietersielie

Die pietersielieplant kom oorspronklik van Suid-Europa en Noord-Afrika. Vandag word dit regoor die wêreld geplant om die blare vars en droog te gebruik. Daar is twee hooftipes pietersilie, die krulblaar pietersielie (Crispum), wat 'n effens taaier plant is, en dan die meer delikate Italiaanse platblaar pietersielie (Neapolitanum).

Plantbeskrywing

Pietersilie is 'n tweejarige plant wat gedurende die eerste jaar geurige, delikate en smaaklike blare produseer, en gedurende die tweede jaar saad skiet. Die plant het 'n sterk penwortel wat ook smaaklik is as dit in die tweede jaar na die saad geoes word. 'n Pietersiliebos groei ongeveer 40 cm hoog en lewer 'n aantal dun, delikate stamme met 'n blarebos bo-aan.
Die ligtegroen skulprand blare van Italiaanse platblaar pietersielie is sag en dun, en word deur meeste kokke verkies. Die krulblaar pietersielie se blare is effens taaier, maar net so smaaklik, en kan gebruik word om geregte te garneer omdat dit vir langer vars lyk.
Meeste produseerders sal pietersilie as 'n jaarlikse plant verbou en elke jaar nuwe plante aanplant.

Gebruike

Pietersielie word gekweek vir sy geurige blare, wat vars of droog in die kombuis as 'n geurmiddel gebruik word, of rou in slaaie geëet word.
Pietersielie is ook bekend vir sy hoë vitamiene C inhoud.

Grondvereistes en Voorbereiding

Pietersielie verkies goed gedreineerde, sanderige leemgrond tot leemgrond wat ryk is aan organiese materiaal. Die plant groei die beste in grond met 'n pH van 6 tot 7.
Wanneer die grond in die plantarea voorberei word, is dit noodsaaklik om genoeg organiese bemesting of kompos by die grond te voeg. Die bemesting moet 'n maand voor aanplanting ingeploeg word om dit tyd te gee om te vestig en enige onkruid die kans te gee om te ontkiem. Die grond moet dan die week voor aanplanting met 'n skotteleg geploeg word sodat die onkruid verwyder en die plantarea gelyk gemaak kan word. Werk voorbereidende kunsmis en spoorelemente 'n dag of twee voor die aanplanting van pietersielie liggies in.

Klimaat

Pietersielie groei die beste in temperature tussen 14°C en 26°C. Dit benodig 'n grondtemperatuur van 15-20°C om te ontkiem. Die plant is tot 'n mate rypbestand.

Kultivars

Gewilde pietersielie kultivars vir kommersiële verbouing sluit in: Banquet, Champion, Evergreen, Italian curled, Italian Flat, Moss, Pagoda en Triple Curl
Dit is raadsaam om advies van 'n betroubare plaaslike saadmaatskappy te kry oor groeipraktyke en wat die beste variëteit is vir die toestande en die teikenmark.
Dis die beste om die mark vir pietersielie te ken voor produksie.

Translated by Rentia Pretorius