Dit is noodsaaklik dat flora in grond ontwikkel sodat dit genoeg organiese materiaal bevat. Organiese materiaal sal met verloop van tyd afbreek en energie verskaf wat die mikro-organismes benodig om organiese materiaal verder af te breek. Op die ou end sal dit voedingstowwe word wat plante benodig om te groei.
Organiese materiaal word ook na verwys as grond koolstof. Koolstof is die belangrikste bousteen van alle organiese molekules en die aantal koolstof in die grond verwys na die totale aantal van al die organiese materiaal in die grond.
Organiese materiaal in die grond sluit alle plantreste en organismes wat in die grond lewe in. Dit bestaan uit drie duidelike, verskillende aspekte - lewende organismes, vars reste, en ontbinde oorblyfsels.
Lewende organismes behoort ongeveer 15% van die inhoud van organiese materiaal in die grond uit te maak en sluit mikro-organismes soos bakterieë en swamme sowel as groter diere soos erdwurms, insekte en molle in.
Vars reste is die dooie organiese materiaal wat nog nie ten volle tot kompos afgebreek het nie en bestaan uit onlangs dooie mikro-organismes, insekte, plantmateriaal en vars mis.
Die goed ontbinde organiese materiaal in die grond staan bekend as humus. Dit is 'n dik bruin of swart stof wat oorbly nadat die meeste van die organiese rommel ontbind het. Humus bind gronddeeltjies saam om kluite of aggregate te vorm. Hierdie aggregate skep die grondstruktuur en stel die grond in staat om vog te behou. Humus is die mees stabiele organiese molekule en is 'n bron van stadig vrystellende koolstof en energie.
Landbougrond moet tussen 1% tot 6% organiese materiaal bevat. In Suid-Afrika kan hierdie syfer tussen 0,05% en 3 - 4% wissel. Hoe meer organiese materiaal in die grond is, hoe meer kos is daar vir mikro-organismes en hoe meer voedingstowwe word vrygestel vir die plante. Organiese materiaal word deur mikro-organismes afgebreek deur 'n proses genaamd kompos.
In hierdie uiteensettingsproses word die organiese materiaal as voedsel deur die mikro-organismes gebruik. Die voedingstowwe in die organiese materiaal is dan nog nie beskikbaar as voedingstowwe vir die plante nie. Net wanneer goed gekomposteerde organiesemateriaal in humus omskep word is dit nuttig vir plante. Humus hou vas aan die voedingstowwe wat stadig vrygestel word in 'n vorm wat plante deur hul wortels kan absorbeer.
Wanneer organiese materiaal afgebreek word tot kompos in die grond, word molekules van selle van vars reste vrygestel. Hierdie molekules sluit in proteïene, aminosure, suikers en stysels en dien as voedsel vir ander mikro-organismes in die grond.
Hierdie lewende mikro-organismes voed op plantmateriaal en produseer stowwe wat gronddeeltjies saambind. Hierdie kluite help om goeie grondstruktuur te skep en help om die grond aggregate te stabiliseer. Organismes soos erdwurms en 'n paar swamme help ook om die struktuur van die grond te stabiliseer - byvoorbeeld deur die vervaardiging van kanale wat toelaat dat water infiltreer en sodoende die waterhouvermoë en deurlugting van die grond verbeter.
Verhoog organiese materiaal in jou grond deur die byvoeging van dieremis (gewoonlik van plaasdiere, en nie mis verkry vanaf huisdiere soos honde of katte nie), blare, vrugte en groente skille, gras, deklaag, oesreste, kompos en groen bemesting.
Groen bemesting kan ook geplant en bygevoeg word deur dit in te grawe of in die grond in te ploeg. Groen mis is 'n gewas wat gesaai en in die grond ingewerk word terwyl dit nog groen is. Hierdie tipe bemesting voeg stikstof by die grond en stimuleer biologiese veranderinge in die grond. Voorbeelde van groen mis sluit in: peulgewasse soos lusern, akkerbone en klawers en nie-peulgewasse soos koring, hawer en rog. Mengsels van peulgewasse en nie-peulgewasse kan gebruik word.
Translated by Wilma Koeppen