Sedert Julie 1986 was Nelson Mandela met regeringslede in kontak. Aanvanklik met die Minister van Justisie, Kobie Coetzee, en toe met die Minister van Grondwetlike Ontwikkeling, Gerrit Viljoen. Uiteindelik het hy in Julie 1989 by Tuynhuys met die Staatspresident PW Botha vergader. In Desember 1989 het hy die nuwe staatspresident, FW de Klerk, ontmoet.
Op 2 Februarie 1990 het staatspresident De Klerk die ontbanning van die ANC en ander politieke partye tydens sy openingsrede aan die parlement aangekondig. Mandela is op 11 Februarie 1990 uit die tronk vrygelaat. Mandela het dadelik massa-byeenkomste in Kaapstad, Soweto en Durban aangepak, wat honderde duisende mense getrek het.
Die jare wat opgelei het na 1994 was baie besig. Nelson Mandela het Suid-Afrika en ander dele van die wêreld getoer en met belangrike lede van die regering en die ANC vergader. Hy het met 'n toer na Lusaka begin om die ANC se Uitvoerende Komitee in Maart 1990 te ontmoet.
Mandela het toe die ANC-president, Oliver Tambo, in Swede besoek, maar moes die reis kort knip as gevolg van die groeiende onrus in Suid-Afrika. In Mei 1990 het Mandela die ANC-afvaardiging, wat gesprekke met verteenwoordigers van die Suid-Afrikaanse regering by Groote Schuur gehou het, gelei. In Junie begin Mandela met sy ses weke toer van Europa, die Verenigde Koninkryk, Noord-Amerika en Afrika. Hy het erkenning ontvang waar hy okal hy gegaan het.
Gedurende 1992 het Mandela sy intensiewe internasionale toerprogram voortgesit en het Tunisië, Libië en Marokko besoek. Hy en die Staatspresident, FW De Klerk het op 3 Februarie in Parys beide die Unesco Houphouet-Boigny Prys aanvaar. Op dieselfde tydstip het die twee mans die Wêreld Ekonomiese Forum bygewoon in Davos, Switserland.
Op 13 April 1992 het Mandela 'n perskonferensie gehou waarin hy verklaar het dat hy en sy vrou, Winnie, ingestem het om te skei as gevolg van verskille wat in die afgelope maande tussen hulle ontstaan het.
Mandela het in September 1992 gesê dat hy bereid was om De Klerk te ontmoet, op die voorwaarde dat hy die openbare vertoning van gevaarlike wapens sou verbied en die politieke gevangenes vrylaat.
Hulle het aan die einde van die maand vergader en hul bilaterale gesprekke het gelei tot die ondertekening van ’n Rekord van Verstandhouding deur die twee leiers. Dit het beteken dat die onderhandelings hervat kon word.
In September 1993 het Mandela Amerika besoek en wêreld besigheidleiers aangemoedig om die ekonomiese sanksies op Suid-Afrika op te hef. Gedurende die tweede helfte van 1993 en vroeg in 1994 het Mandela namens die ANC die veldtog vir die 1994-verkiesing gelei en 'n aantal byeenkomste en forums aangespreek.
In 1994 is die eerste algemene verkiesings gehou vir alle lede van die publiek om te stem, ongeag hul ras. Op 9 Mei 1994 is Mandela as Staatspresident van Suid-Afrika verkies. Sy presidensiële inhuldiging het die volgende dag by die Uniegebou in Pretoria plaasgevind en is bygewoon deur die grootste hoeveelheid internasionale leiers wat nog ooit in Suid-Afrika was.
Tydens sy inhuldigingstoespraak het Mandela 'n "tyd van genesing" aangevra en gesê dat sy regering nie enige diskriminasie sal toelaat nie. Mandela het belowe om 'n samelewing te skep waarin alle Suid-Afrikaners sonder vrees kan rondloop.
In 1999 het Mandela uit sy aktiewe politieke plig afgetree, maar hy het met veldtogte oor gesondheids- en opvoedkundige kwessies voortgegaan. Ongelukkig het Nelson Mandela op 5 Desember 2013 op 95-jarige ouderdom gesterf.
Suid-Afrika en, inderdaad, die wêreld het getreur oor die dood van 'n vrygewige en brawe man. Deur die Nelson Mandela-stigting en die Nelson Mandela-kinderfonds is Nelson Mandela se nalatenskap steeds aan die gang.
Translated by Nina Joubert