Muscat de Frontgnan
Muscadel

Naam

Muskadel

Beskrywing

Muskadel in Suid Afrika verwys na die Muscat de Blanc à Petite Grains variëteit wat wit muskaat met klein korrels beteken. Dit word beskou as een van die oudste druif variëteite. Suid Afrika produseer die klassieke wit variëteit sowel as ’n mutasie wat dieselfde kenmerke het as die gewone muskadel, maar rooi korrels het. Dit word meestal gebruik vir die produksie van gefortifiseerde wyn.

Oorsprong

Daar word geglo dat die Romeine hierdie antieke Griekse variëteit na Frankryk geneem het waar dit in massas aangeplant is in Frontignan. Hierdie variëteit is om hierdie rede ook bekend as Muscat de Frontignan.

Ander Name

Buiten Muscat de Blanc à Petite Grains en Muscat de Frontignan is die wit variëteit in Duitsland bekend as Gelber Muskateller en in Kalifornië as Muscat Canelli. Die rooi variëteit is in Australië bekend as Brown Muscat.

Produksie in Suid-Afrika

Muskadel was een van die eerste wyne om in 1659, ’n paar jaar na Jan van Riebeeck se aankoms in die Kaap, in Suid Afrika geproduseer te word. Wit en rooi Muskadel tesame met rooi Pontac, wit Frontignac en Steen was van die variëteite wat Constantia se natuurlike soet wyne in die 18de en 19de eeu aan die wêreld bekend gestel het.

Hierdie wyn het ’n gunsteling in die Europese koninklike howe geword en het lofprysinge van bekende digters en skrywers gekry. Jane Austen se Mrs Jennings in Sense and Sensibility het byvoorbeeld die volgende gesê: “a little Constantia for it’s healing powers on a disappointed heart” en Charles Baudelaire het in sy gedig Les fleur du mal dit vergelyk met die sjarme van sy geliefde.

Napoleon Bonaparte het blykbaar toe hy op sy doodsbed lê ’n bottel van hierdie wyn versoek. Hierdie era het in 1886 tot ’n einde gekom toe ’n sapsuigende insek Filloksera (wortelluis) tot die vernietiging van die meeste wingerde in Suid Afrika gelei het.

Van toe af is wingerdstokke op onderstokke geënt wat bestand was teen hierdie insek en vanaf Noord Amerika ingevoer is. Suid Afrika was een van die min lande wat teen die 20ste eeu meer rooi as wit Muskadel geproduseer het. Die situasie het mettertyd verander met rooi Muskadel wat met meer as die helfte verminder het.

Produksie Streke

Terwyl die gebied onder produksie gedurende die afgelope jare aansienlik afgeneem het, kan wingerde steeds in die meeste wynproduserende streke van die land gevind word.

Die Robertson vallei het meer as die helfte van die Muskadel wingerde in Suid Afrika. Die rooi variëteit floreer in die effens alkaliese spoelgrond van die Klein Karoo, terwyl die wit variëteit beter doen in leemgrond. Beide variëteite verkies warm, droë klimaatstoestande.

Groei

Hierdie variëteit is nie so ’n sterk groeier soos Muscat d’Alexandrie, ook bekend as Hanepoot in Suid-Afrika, nie. Met ’n gemiddelde opbrengs van 15 tot 20 ton per hektaar is die produksie potensiaal ook effens laer.

Oestyd

Dit word vroeg in die mid-seisoen ryp, gewoonlik vanaf die derde week in Februarie.

Druiwekorrels

Hierdie variëteit het ronde, klein tot mediumgrootte korrels. Die wit variëteit het ’n geelgroen kleur en die rooi variëteit wissel van ’n dowwe tot donker rooi, afhangende van die klone.

Blare

Die blare van beide variëteite is dik, rond, donkergroen en drielobbig.

Siektes en Plae

Die variëteit word maklik deur die son beskadig en is vatbaar vir witvrot, donsskimmel, antraknose (swartroes), botritis en suurvrot.

Gebruik

Dit word meestal gebruik vir die produksie van gefortifiseerde wyne wat onder die Muskadel naam verkoop word. Klein volumes word gebruik om natuurlike soet wyne te produseer.

Smaak

Hierdie wyn het die beste veroudering potensiaal van al die variëteite. Die wyne wat verouder word het ongelooflike ryk en komplekse geure soos heuning, karamel en toffie, terwyl die wat vroeër gedrink word ’n sterk druif of blommegeur het.Translated by Ananda Schoeman