Melkbokboerdery in Suid-Afrika

©Marinda Louw
Bokke aard goed onder byna alle omstandighede aangesien erge koue of erge hitte hulle nie nadelig beïnvloed nie. Melkbokke het die voordeel bo melkkoeie dat hulle op swakker weiding aangehou kan word terwyl dit nie ekonomies moontlik is met melkkoeie nie. Bokmelk word gebruik vir mense en veral babas wat vir beesmelk allergies is.
Bokmelk bevat egter min foliensuur of vitamien B9 wat noodsaaklik is vir die vorming van rooi bloedselle, selgroei en breingesondheid. Bokmelk bevat meer proteïene en minerale as beesmelk. Bokmelk mag ‘n karakteristieke geur hê vanweë die verskille in die tipes vet in die room, wat daaraan ‘n romeriger en gladder smaak gee. Bokmelk mag ‘n sterker geur hê tydens die teelseisoen.

Melkbokrasse

©SA Milch Goat Breeders Society
‘n Belangrike ding om ingedagte te hou wanneer jy ‘n ras kies, is waar gaan jy jou volgende ram vandaan kry? Indien die populasie van ‘n besondere ras klein is, is daar ‘n hoë risiko dat jy dalk ‘n bok kies wat baie na verwant is aan die bokke wat jy reeds het. Dit mag lei tot inteling.
Die vier vernaamste melkbokrasse in Suid-Afrika is:
Saanen (wit) Dis die gewildste melkbokras in die wêreld
Toggenburg (bruingrys)
Britse Alpe-bok (swart)
Bunte Deutsche Edelziege (BDE) – verskeie kleure, maar met ‘n donker streep van kop tot stert

©Marinda Louw
Die wit Saanen is ‘n medium tot groot dier wat sensitief is vir die Suid-Afrikaanse son en karsinoom van die uier mag ontwikkel Hulle aard die beste in die koeler gebiede en het skadu nodig. Saanens is mak en lewer baie melk (2.2kg/dag), hoewel bottervet (3.1-3.8%) neig om ‘n bietjie laer te wees as dié van ander rasse. Hulle is geskik vir kommersiële melkerye.

©Marinda Louw
Die bruin Toggenburg is uit Switserland ingevoer in die vroeë 20ste eeu en is die oudste melkbokras bekend. Die Toggenburg is ‘n stewige, mediumgrootte dier met sagte, fyn hare. Ramme het groot baarde. Die Toggenburg se melkproduksie is ongeveer 2.0kg/dag met ‘n bottervet inhoud van 3.2-3.7%. Hulle is nie geskik vir tropiese toestande nie en verkies koeler klimate.

©Marinda Louw
Die groot langbeen Brite Alpe-bok is ‘n indrukwekkende dier – swart met wit merke en ‘n blink pels (ooie). Nege diere – ses ooie en drie ramme is ingevoer uit die VK tussen 1924 en 1936. Hulle is goeie melkproduseerders – 2.0kg/dag. Hulle lewer ook goed melk gedurende die winter en het ‘n verlengde laktasieperiode. Bottervetinhoud is 3.2 – 3.8%. Hulle verkies gematigde toestande met humiditeit wat nie te hoog is nie.

Die Bunte Deutsche Edelziege (BDE) is ‘n groot, robuuste bok met ‘n verskeidenheid kleure. Hulle kan baie ver loop en is ‘n langlewende, vrugbare bok wat baie siektebestand is. Die BDE word geloof vir sy heerlike melk en kan harde toestande verdra.

Aankoop van ‘n Bok

©Marinda Louw
‘n Ooi wat alreeds en of twee lammers gehad het, het haar potensiaal getoon. Sy behoort ‘n goeie ma te wees en in staat te wees om hoë volumes melk te produseer. Gaan haar gewig na (vir haar ouderdom), die sterkte van haar bene en pote, tande sowel as die vorm en gesondheid van haar uier. Sy behoort ‘n goed aangehegte uier te hê, sonder enige abnormale of harde gedeeltes wat ‘n aanduiding mag wees van vorige infeksies.
Ramme moet sterk, gesond en uitgegroei wees. Onthoringde ramme is aanvaarbaar. Die aantal bokke wat aangekoop word sal afhang van die grootte van die kudde wat die boer wil vestig, fondse beskikbaar, grootte van die mark wat hy wil diens en die vinnige reproduksietempo van bokke.

Translated by Elna Van Rhyn