Kusmalva

©Alice Notten of Kirstenbosch
Die ‘Cape rose geranium’ (kusmalva) essensiële olie (Pelargonium capitatum x radens) is die gewildste uit 700 spesies gekweekte geranium (malvas) en ’n kruising van twee van die drie olieproduserende pelargoniums. Daar is verwarring oor die naam, want die plant is ’n pelargonium, maar die geranium klassifikasie word daarvoor gebruik. Die plant is inheems aan Suid-Afrika en word deur die Sotho-mense gebruik; die verpulpte blare word gebruik om absesse en wonde te behandel.
Konvensionele gebruike sluit die behandeling van PMS en menopousale probleme in en dit word ook as ’n antidepressant gebruik aangesien dit die hormoonbalans herstel. Die olie kan in ‘n verbrander verhit word, in badwater gedrup word of met ‘n draer-olie (bv. amandel or kokosneutoile) gemeng word en as masseerolie gebruik word.
As ’n bestanddeel in skoonheidsmiddels, is dit geskik om oortollige sebum (olie) te verminder en dit help om brandwonde en gebreekte bloedvate te herstel. Dit word ook in die voedsel industrie gebruik as ’n geurmiddel in veral pienk-kleurige produkte. Geranium essensiële olie het antibakteriese en anti-inflammatoriese eienskappe en weer insekte op ’n natuurlike manier af omdat dit geraniol en sitronellol bevat.
Die plant word wêreldwyd verbou, veral in Indië, Sjina en Egipte. Die blare word drie tot vier keer per jaar geoes en daarna gestoomdistilleer om ’n dun geel-groen olie te verkry. Die hoof Suid-Afrikaanse produksie gebiede vir geranium essensiële olie is Mpumalanga, Wes-Kaap, KwaZulu-Natal en die Limpopo provinsie. Die plant is sensitief vir koue.

Mediese Vrywaring

Die inligting is slegs vir opvoedkundige en inligtingdoeleindes en mag nie as mediese advies geïnterpreteer word nie. Dit is nie bedoel om mediese advies of behandeling te vervang wat deur gesondheidswerkers aangebied word nie.

Translated by Ananda Schoeman