Keuse van Bulle vir ‘n Melkkudde

©Chris Daly
Die melkproduksie van koeie begin na kalwing. Om koeie beset (dragtig) te kry is daarom ‘n belangrike bestuursaksie op ‘n melkplaas.
Daar is twee gevolge wanneer ‘n koei beset raak: eerstens die moontlikheid van ‘n volgende laktasieperiode en tweedens die vaslegging van die genetiese meriete van die nageslag.
Teling met plaasdiere word beskryf as ‘n doelbewuste poging om spesifieke eienskappe (byvoorbeeld melkproduksie) van ‘n ras, kudde of koeie te verbeter. Genetiese verbetering vind plaas wanneer beter ouers geselekteer word. Aangesien ‘n melkkudde uit koeie bestaan wat seleksie bemoeilik, beteken dit dat die bulle wat gebruik moet word om koeie beset te kry, die genetiese vordering sal bepaal.
Die seleksie van bulle het ‘n langtermyn effek op die genetiese meriete van ‘n melkkudde. Die melkproduksievermoë van die dogters van bulle wat vandag geselekteer word, word eers vier jaar later gesien. Die huidige melkkudde bestaan uit koeie wat 3 - 8 jaar gelede gebore is.
Die teeldoelwit van ‘n melkkudde behoort gerig te wees op die verbetering van produksie-eienskappe. Aangesien ‘n melkkudde primêr melk produseer, maak dit daarom sin om bulle te selekteer met ‘n hoë genetiese meriete vir melkproduksie om sodoende die moontlikheid van hoog produserende dogters te verseker. Nieteenstaande hierdie benadering word die kies van bulle op ‘n enkel eienskap soos melkproduksie nie aanbeveel word nie omdat daar ander eienskappe is wat die ekonomiese prestasie van koeie beïnvloed. Dié eienskappe is onder andere die volgende:
Koeie wat die meeste melk produseer op beskikbare voere.
Die melk moet hoë vet- en proteïenpeile bevat.
Koeie moet ‘n lang produktiewe lewe hê.

Bulle vs Kunsmatige Inseminasie

©Chris Daly
Kommersiële melkerye gebruik kunsmatige inseminasie (KI) om koeie beset te kry. Natuurlike dekking met bulle kan ook gebruik word. Bulle vir natuurlike dekking moet van gevestigde telers wat aan die nasionale melkaantekeningskema deelneem, gekoop word. Hierdie skema voorsien die beraamde teelwaardes (BTW’s) van alle diere in die kudde. Teelwaardes gee ‘n aanduiding van die genetiese meriete van diere. Moet nooit bulle koop wat geen genetiese inligting het nie.
Die voerkoste van ‘n bul is sowat R30 (2018) per dag en dus sowat R13 680 per jaar. Die aankoop-, arbeid- en behuisingskoste van die bul is hierby uitgesluit. Indien ‘n bul dus op 50 koeie per jaar gebruik word is die dekkingskoste sowat R275 per dekking. (R13 680/50 koeie)
Semen vir KI kan gekoop word van plaaslike of internasionale KI maatskappye. Bulgidse is brosjures wat ‘n groot hoeveelheid genetiese inligting van elke bul bevat. Die inligting sluit onder ander die genetiese meriete vir melkproduksie en bouvormeienskappe van die dogters van elke bul in. Een strooitjie semen word gebruik met elke inseminasie, maar sowat 2 - 4 strooitjies word benodig om koeie beset te kry. Dit hang veral af van die KI-vermoë van die insemineerder. Die koste van semenstrooitjies varieer tussen R60 tot R275 (2017).

Hoe om ‘n Bul te Kies

Om bulle te selekteer moet ‘n lys van al die beskikbare bulle van die semenmaatskappy verkry word. Wanneer min bulle beskikbaar is, word bulseleksie bemoeilik. Die aanvanklike lys van bulle moet ten minste 20 bulle bevat. Die lys moet ook die koste van semen aandui. Die teelwaardes van verskillende eienskappe word dikwels gekombineer in ‘n indeks, byvoorbeeld “Net Merit” wat 12 verskillende eienskappe kombineer tot ‘n enkelsyfer.
Sommige semenmaatskappye bied ook ‘n diens aan melkboere waarvolgens koeie volgens hul bouvorm gepunt word om sodoende ‘n paringsprogram op te stel. Dié inligting van koeie word in ‘n rekenaarprogram opgeneem waarna bulle vir gebruik op elke koei aanbeveel word. Sodanige programme gebruik korrektiewe paring om bouvormeienskappe te verbeter terwyl terselfdertyd melkproduksie verhoog of behou word.
‘n Kudde-indeks kan ook beraam word soos byvoorbeeld ‘n kombinasie van BTW’s vir vet- en proteïenproduksie. Gebruik die melkpryse vir vet en proteïene as riglyne. Die indeks kan ook uitgebrei word om melkproduksie, vrugbaarheid, produktiewe leeftyd en bouvormeienskappe soos skouerhoogte in te sluit.
Sorteer die lys van bulle volgens die indeks van hoog na laag. Kies dan die beste vyf bulle.

By Dr Carel Muller