Karob as Voer Vir Diere

© Zeynel Cebeci
Die immergroen karob- of johannesbroodboom produseer groot groen peule wat bruin raak wanneer hule ryp is. Die peule bevat ‘n soet vleis en ewegroot bruin sade. Fyngemaalde sade produseer ‘n gom wat gebruik word as verdikkingsmiddel in die voedselbedryf.
Die soet peule wat baie vesel bevat, word gevreet deur perde, beeste, varke, bokke en konyne. Moenie hoenders daarmee voer nie. Heel peule (en baie harde sade) moet met ‘n hamermeul gemaal word. Karobsade is baie hard en as dit nie gemaal word voordat ‘n dier dit vreet nie, kan dit onverteer deur die dier se spysverteringkanaal beweeg. Karobsade bevat ongeveer 18% proteïene en 42-46% gom.
Karob bevat baie tanniene en behoort nie meer as 10% van diere se voer uit te maak nie. Hierdie tanniene meng in met die verteerbaarheid van proteïene. Karobsaadmeel/johannesbroodboommeel is ryk aan proteïene en word gebruik in beesvoer sowel as hondebeskuitjies. Die meel los maklik op in water en kan gebruik word as ‘n speningsdieet vir varkies, kalwers en ander herkouers.

Sommige boere voer karob aan hul perde as deel van ‘n ‘koel voer’ (hoë vesel) of om ‘n suikerbevattende lekkerny soos soethout te vervang. Die peule word gewoonlik in ‘n hamermeul gemaal, maar sommige perde vreet die peule dierk van die grond af.
In ‘n Egiptiese studie is karob as konynvoer getoets en daar is bevind dat indien 5% van die voer uit karobpeule bestaan het, die groeiende konyne beter presteer het.

Karob vir Skape en Bokke

Karob as voer vir skape is bestudeer in navorsing deur die Kahramanmaras Sutcu Imam Universiteit in Bursa, Turkye. Daar is bevind dat heel karobpeule ‘n goeie potensiële energiebron vir skape is, maar proteïeneaanvulling sal nodig wees as karobpeule in herkouers se dieet ingesluit word.
In ‘n Italiaanse voedingstudie is daar bevind dat karobpeule genoeg proteïene en energie bevat om te voldoen aan die instandhoudings- en laktasievereistes van lakterende bokke en skape in semi-dorre streke. In melkbokke wat nie wei nie, bevat ‘n voerrantsoen voldoende vesel in die vorm van karobpeule (26%) en beetpulp (27%). Hierdie rantsoen kan swak kwaliteit weiding vervang.

Karob as Voer vir Varke

Karob is geskik as voer vir varke. In ‘n studie op ‘n kommersiële varkplaas in Griekeland is daar gekyk hoe karob in die voer die vleiskwaliteit van varke beïnvoed het. 160 Speenvarke is gevoer met rantsoene wat onderskeidelik 0 of 75 of 100 of 125 g karobpeule per kg voer bevat het. Die resultate het gewys dat karkasgewig aansienlik hoër was met die byvoeging van die 75 of 100 g/kg karobpeule. Die byvoeging van 125 g/kg karobpeule in sommige varke se voer het geen effek op liggaamsgewig gehad nie. Daarom word karobpeule aanbeveel as ‘n potensiële voer waarmee varke vetgemaak kan word.

Varkspesialis en veearts, Dr Jim Robinson beveel aan dat fyngemaalde karob teen nie meer as 5% van die voer gebruik word nie en stel voor dat volwasse varke eerste gevoer word om hul reaksie te toets. Die hoë tannien en suikervlakke neig om aptyt te onderdruk by jong varke, hoewel die energie inhoud aanvaarbaar sal wees. Bly by 5% as ‘n kostebespaarder tensy die karob geprossesseer en verkoop word met ‘n betroubare ontleding daarby. Slegs dan mag jy probeer om die hoeveelheid te verhoog tot 10% van jou voermengsel.

Neem Asseblief Kennis: Inligting is vir opvoedkundige en inligtingsdoeleindes alleenlik en mag nie voorgestel word as voedingsadvies nie. Die inligting is nie veronderstel om advies of voerformulasies van professionele dierevoedingsspesialiste te vervang nie.

Translated by Elna van Rhyn