Instandhouding in Varswater Visboerdery

© Marinda Louw

In sommige varswatervisboerderysisteme (akwakultuur), word vis aangehou in nethokke wat in ’n dam of meer dryf, terwyl ander akwakultuursisteme tenks of damme gebruik vir kommersiële visboerdery.

Gereelde inspeksie en gereelde instandhouding van toerusting verlaag bedryfskostes en verhoog produksie effektiwiteit.

Inspeksie van Hoknette

Skoon nette verbeter die vloei van water deur nette en verskaf oksigenering.

Hou nette skoon van alge deur een kant op te lig en toe te laat dat dit winddroog word. Die droë alge kan dan afgeborsel word.

Ondersoek die nethokke weekliks deur een kant op ‘n slag op te lig om te soek na gate of skeure wat vis mag laat ontsnap. Dit kan elke week en gedurende die maandelikse toetsmonsters en op oesdae gedoen word.

Strukturele ondersoeke van die raamwerk van hokke, nette en ankers behoort ook gedoen te word nadat hokke verskuif moes word weens, bv. lae suurstoftoestande of dreigende weerstoestande.

Beskerming van Nethokke

Hokke moet beskerm word teen predatore soos kormorante en otters. Span anti-predatornet aan die buitekante van hokke tot ‘n diepte van minstens 1 meter onder die boom van die hok.

Verwydering van Dooie Vis

Vis vrek weens swak waterkwaliteit, siektes en verwonding deur predatore. Verwyder dooie vis onmiddellik. Dooie vis lê ook op die boom van die net vir ‘n paar dae voordat dit bo dryf. Dooie vis op die bodem moet verwyder word gedurende roetine netinspeksies.

Produksieterreine moet op ‘n daaglikse basis inspekteer word vir enige dooie vis wat verwyder moet word en daar moet op ‘n omgewingsvriendelike manier daarvan ontslae geraak word om die verspreiding van siektes te voorkom. Dit kan in ‘n diep gat begrawe word waarna ‘n koppie landboukalk per medium-grootte vis oorgestrooi moet word. Kalk verbeter die ontbinding van organiese materiaal.

Ander wyses om van dooie vis ontslae te raak, sluit in verbranding van karkasse of die gebruik van suur. Alle visvrektes (enkelvrektes of massavrektes) moet aangeteken word. Teken ook moontlike oorsake aan.

Nagaan van Platforms

Die stabiliteit en ankerplekke van hoknet ankerlyne sowel as die veiligheid en integriteit van die dryfmeganismes van die hokstrukture moet nagegaan word, en die vervoervlot tussen die hokke en die walle van die dam moet ook gereeld nagegaan word.

Handhaaf die higiëne van hokplatforms. Platforms behoort daagliks gevee te word om ou kos, voëlmis en slym van vis af te vee. Dit kan glibberig word onder nat toestande en waterveiligheidsregulasies vir personeel moet te alle tye gehandhaaf word.

Let op enige tekens van verwering van hokrame en hokplatforms. Plaas ou bande tussen die hokstruktuur en die vervoervlot om beskadiging van die galvanisering van beide strukture te verhoed.

Skoonmaak van Damme en Tenks

In oop sisteme waar vis nie in nethokke gehou word nie, sal inspeksies insluit die nagaan van pompe, skoonmaak van filters en pype, vrydering van enige dooie vis en nagaan van watervlakke.

Gras rondom die damme behoort gereeld gesny te word. Eenmaal ‘n jaar behoort damme gedreineer, en deur die son drooggebak te word. Afhangende van die seisoen en of die tenks binnenshuis of buite is, behoort hulle wekliks of tweeweekliks skoongemaak te word. In die somer, wanneer alge weliger groei, word dit aanbeveel dat hulle weekliks skoongemaak word. Maak ook die skerms van die pompe, inlate en uitlate daagliks skoon.

Gereelde wateranalises is noodsaaklik om te voorkom dat vis stres en siektes ontwikkel.

Translated by Elna Van Rhyn