Hoe om Koeie te Melk

Voorbereiding om Koeie te Melk

©Chris Daly
Melk word in die uier geproduseer en gestoor. Die onttrekking van melk uit die uier is net moontlik met die samewerking van die koei. Dit hang grootliks af van die manier hoe koeie voor melk behandel word.
Koeie moet gestimuleer word om melkvloei (melklating) te laat plaasvind. Die melklatingsproses begin wanneer koeie na die melkportaal gebring word en hulle bekende geluide hoor soos melkkanne wat rondgeskuif word en die melkmasjien wat aangeskakel word. Dit stimuleer ‘n senuwee-impuls in die brein wat die pituitêre klier aktiveer om die melklatingshormoon oksitosien in die bloed vry te stel.
Wanneer oksitosien die uier bereik, veroorsaak dit die sametrekking van die epiteelselle wat die melkselle (alveoli) in die uier omring. Dit forseer melk uit die alveoli in die melkbuisies. Die groter melkbuise, uiersinus (uierholte) en speenholte word met melk gevul. Dit is ‘n aanduiding dat melklating plaasgevind het en dat die koei gemelk kan word. Die melklatingsproses word versteur wanneer koeie skrik, in pyn verkeer of kwaad is. Dit word veroorsaak deur die hormoon adrenalien wat die vrystelling van oksitosien voorkom.

Was van die Spene en Uier

©Chris Daly
Die uier en spene van koeie moet skoongemaak word voordat hulle gemelk kan word. Dit is om besmetting van die melk te voorkom. Besmetting van melk verminder die houvermoë daarvan en kan siekteverooorsakende bakterieë oordra na mense.
Die melklatingsrefleks word gestimuleer en die oksitosienpeile in die bloed word verhoog wanneer die uier en spene van ‘n koei vir 30 - 40 sekondes met die hand gewas word.
Melkbeesrasse verskil in hul reaksie op uierstimulasie. Holsteinkoeie (of hoogproduserende koeie) word makliker gestimuleer as ander rasse, waarskynlik as gevolg van ‘n hoër drukking in die uier. Zebu-tipe koeie (soos Brahman, Afrikaner en Nguni) word nie so maklik met die hand gestimuleer nie tensy die kalf by die koei is en aan haar drink.
Vir die beste melkvloei moet die melkproses begin binne sowat 40 - 60 sekondes na die handstimulasie (was van die uier). ‘n Vertraging tussen die stimulasie en die begin van die melkproses affekteer melkproduksie op verskeie maniere. Onder andere word die melkproses vertraag, speenpunte word blootgestel aan meer wrywing en die laktasieperiode kan korter wees weens vroeëre opdroging.

Die Voor-Melk Prosedure

Die voor-melk prosedure is soos volg: was die spene en die onderste dele van die uier met lopende water. Droog daarna die spene daarna af met ‘n weggooibare papierhanddoek. Melk dan (met die hand) ‘n klein bietjie melk op ‘n swart oppervlakte (die deksel van die mastitisbeker) om te sien of daar harde stukkies (klonte) in die melk is. Hierdie aksie help ook om bakterieë te verwyder wat moontlik in die speenopening teenwoordig mag wees.
Klonte in die melk is ‘n aanduiding van mastitis of ‘n uierinfeksie. Wanneer geen klonte sigbaar is nie, kan die melkproses begin. Koeie kan met die hand gemelk word of deur die kloustukke van die melkmasjien aan die spene te heg.

Handmelk vs Masjienmelk

©Chris Daly
Met handmelking word melk uit die spene gedruk met ‘n drukaksie van die vingers wat teen die basis van die spene begin. ‘n Trek-aksie word meer algemeen gebruik. Die speen word met twee vingers aan die basis van die speen geknyp en afwaarts getrek na die punt van die speen. Om wrywing te verminder moet die spene gesmeer word met ‘n room (melksalf) wat lanolien bevat.
Met masjienmelking word melk uit die uier onder vakuum met ‘n suigaksie verwyder. Die puls-aksie van die melkmasjien simuleer die manier waarop ‘n kalf suig, naamlik vakuum word toegepas en dan gestop sodat die lugdruk kan herstel.
Wanneer melkvloei afneem, word die kloustukke afwaarts gedruk om die laaste melk uit die uier te verwyder. Die melkproses is voltooi wanneer daar geen melkvloei is nie. Die uier sal pap voel en sakkerig voorkom.

Die Na-melk Prosedure

Na melking moet die speenpunte skoongemaak en behandel word met ‘n na-melk speendoop om dit te beskerm teen bakteriële infeksies.
Die speenopeninge bly vir sowat 30 min na melking steeds oop. Nadat koeie gemelk is moet hulle gestimuleer word om te bly staan om bakteriële indringing deur die speenopeninge te voorkom. As hulle sou gaan lê, kan bakterieë deur die speenopeninge ingaan.
Hulle moet daarom so gou as moontlik teruggaan na die weiding of oopkampe waar hulle kan begin vreet. Daar moet dan vars voer of 'n nuwe weidingstrook wees sodat hulle kan begin vreet. Dit sal beteken hulle sal bly staan en tyd verleen totdat die speenopeninge toegegaan het.
Soms is die hele melkproses baie uitgerek, koeie word nader gebring, hulle wag voordat hulle gemelk word, hulle moet staan om gemelk te word en dan stap hulle uit waar hulle weer wag voordat hulle weer na die weidings- of oopkampe gaan.
Ouer koeie sal gaan lê as die proses lank is. Dit gebeur dikwels wanneer die melkers alles moet doen. Dit help dus as daar iemand is wat die koeie nader bring terwyl die melkers die melkmasjiene was en voorberei en dan moet iemand anders weer die koeie terugneem na die kampe waar vars voer moet wees.

By Dr Carel Muller