Gesonde Grond deur Bewaringslandbou

© Marinda Louw
‘n Toenemende bewustheid van die belangrikheid van gesonde grond het daartoe gelei dat ‘n al-groter-wordende aantal boere bewaringsboerderymetodes toepas. Hierdie benadering rus op drie pilare, naamlik minimum bewerking, dekgewasse en gewasrotasie.

Minimum Bewerking

Bewarings-of minimumbewerking word sedert die 1970’s op groot skaal in die VSA toegepas en het van daar versprei na die res van die wêreld, insluitend Suid-Afrika. Met konvensionele bewerking word die grond óf geploeg, óf ge“disk” of ge”rip”, wat die grondstruktuur versteur en met verloop van tyd lei tot agteruitgang van die grond, asook erosie. Dit het ook ‘n negatiewe impak op die grond se waterhoukapasiteit en word vereenselwig met die vernietiging van voordelige grondorganismes.
Met bewaringsbewerking word die grond so min as moontlik versteur. Wanneer daar geplant word, sal gespesialiseerde bewaringsbewerkings tand of skottel planters slegs die grond van die plantry liggies skraap of sny tot op die verlangde diepte. Plant en bemesting mag ook gelyktydig gedoen word.
Om erosie te voorkom, sal ernstige bewaringsboere selfs ‘n stap verder gaan en GPS tegnologie gebruik om te verseker dat die implemente wat elke jaar gedurende produksie gebruik word, altyd op presies dieselfde spore loop. Zero-of geenbewerking is die mees ekstreme vorm van bewaringsboerdery waar daar slegs ‘n smal slootjie in die dekgewaslaag gemaak word waarin die saad en bemesting geplaas word.

Dekgewasse

©Francois Viljoen
In die verlede het boere lande aan die brand gesteek na die oes om van onkruid ontslae te raak. Bewaringsboere brand nie hul lande nie, maar laat die oesreste op die land. Die praktyk het verskeie voordele. Dit kan:
Dien as buffer teen wind- en watererosie
Die waterinfiltrasie en waterhoudingskapasiteit van grond verhoog
Verdamping verminder
Organiese materiaal in die gronde vermeerder
Grondorganismes beskerm teen uiterste klimaatstoestande
Dien as habitat en voedsel vir voordelige organismes

Gewasrotasie

In plaas van enkelgewasverbouing waar dieselfde gewas jaar na jaar op dieselfde grond geplant word, pas bewaringsboere gewasrotasie toe. Hulle evalueer die verskillende gewasse wat geskik is om in hul produksieomgewing verbou te word, en roteer dan hierdie gewasse met mekaar.
Voorbeelde van gewasse wat in die Wes-Kaap in die rotasiesisteem gebruik kan word, is koring, kanola, gort, lupiene, medics (vaatjieklawer) en lusern. Die geheim is om nie ‘n jaargewas uit dieselfde familie vir meer as twee jaar na mekaar op dieselfde grond te plant nie. Die rotasiesisteem hoef nie slaafs nagevolg te word nie, maar moet liewer gesien word as ‘n bestuurshulp. Boere kan dit aanpas soos nodig, soos byvoorbeeld as daar ‘n siekte- of onkruidprobleem ontstaan.
Die doel van gewasrotasie is om siektesiklusse te verbreek wat vereenselwig word met die aanhoudende verbouing van slegs een gewas. Spesifieke organismes en siektes word verbind met spesifieke gewasse, so as jy dus slegs hierdie gewasse plant, sal dit lei tot ‘n opbou van hierdie organismes. Deur iets anders te plant sal hierdie organismes sonder ‘n voedingsbron wees, wat sal lei tot hul vermindering.
Gewasrotasie laat boere ook toe om ‘n groter verskeidenheid onkruiddoders te gebruik om onkruidprobleme hok te slaan, wat weer verhoed dat daar onkruiddoderweerstand opbou. Gras onkruiddoders kan byvoorbeeld nie gebruik word wanneer koring geplant is nie want dit sal die koring doodmaak, maar boere kan hierdie onkruiddoders gebruik as hulle breëblaargewasse geplant het. Dieselfde geld breëblaaronkruiddoders. Hulle kan nie op breëblaargewasse gebruik word nie, maar kan tydens koringproduksie aangewend word.
Wanneer onkruiddoders gebruik word, moet die instruksies noukeurig nagevolg word en gewasse so roteer word dat produkte met verskillende aktiewe bestanddele roteer word sodat plaagdoderweerstand nie ontstaan nie.

Translated by Elna Van Rhyn