Byekorwe vir Nuwe Byeboere

©Ivan Leroy Brown, Beegin
Om te begin om met bye te boer, het die byeboer 'n korf nodig. 'n Korf is waarin die bye sal woon, jong bye sal grootmaak, hul koningin (wat eiers lê) veilig hou en heuning en ander voedselbestanddele sal bêre. Bykolonies sal ook verskuif moet word (in hul korwe) van een plaas na 'n ander vir bestuiwingsdoeleindes.
Jy kan begin met 'n gebruikte korf, self een maak of die los komponente koop en dit aanmekaar sit ('n groot werk). Die beste is om 'n nuwe korf te koop. Die meeste byeboere in Suid-Afrika gebruik die Langstrothkorwe wat van plaaslike dennehout gemaak word.
Sedert onlangs word korwe van mariene laaghout gemaak wat meer duursaam is as normale laaghout. Sement en saamgestelde plastiekkorwe is alternatiewe opsies omdat hulle baie duursaam is. Die plastiek byekorwe is baie goed ontwerp, maar duur.

Gebruikte Byekorwe

As jy tweedehandse of gebruikte byekorwe koop, loop jy die gevaar dat siektes in jou kolonie kan beland en daarom is dit noodsaaklik om 'n gebruikte korf te steriliseer. Die gebruikte korf kan behandel word met vretende chemiese middels soos hipochloried- en asynsuur of dit kan aan die brand gesteek of bestraal word. In Suid-Afrika word alle korwe bestraal of in baie warm Waksol of paraffienwas gedoop om die hout te beskerm. Wees versigtig wanneer Waksol gebruik word op die korwe. Dalk kan jou plaaslike byeboervereninging raad gee?

Die Beste Korwe vir Beginners?

'n Byekorf bestaan uit 'n broeikas op 'n basis met 10 houtrame in die kas. Elke raam het 'n dun wasstrokie om die bye te help om hul nuwe wasvel te bou. Bo-op die broeikas is 'n heuningkas (met die deksel bo-op) wat ook 10 rame met smal wasstrokies het. Jy kan tussen drie en vyf heuningkaste per korf hê. Heuning word geoes van hierdie heuningkaste. Om te voorkom dat die koninginby haar eiers lê in die heuningkas, kan jy 'n koninginskerm tussen die broeikas en die heuningkaste plaas. Werkerbye – kleiner as die koningin – kan maklik tussen die rame en deur die skerm beweeg.
Soms word stuifmeelvangers gebruik by die ingange van korwe. Hierdie vangers versamel stuifmeel van die bye soos hulle na die korf terugkeer. Die stuifmeel behoort daagliks bymekaar gemaak te word en gevries te word om later as hoë proteïen aanvullende voedsel vir die koningin of in tye van voedselskaarste gebruik te word. Nie alle byeboere stem saam oor die gebruik van stuifmeelvangers nie. Sommige voel dit vertraag die insameling van nektar en die beweging van bye in die korf in.
Dit word aanbeveel dat jy jou korf op ‘n staander of bakstene plaas – solank dit net van die grond af opgelig is. Nie net is dit minder stremmend op jou rug nie, maar dit verhoed ook aanvalle deur diere en kruipende insekte. Die byetoerustingmaatskappy Bee Ware beveel aan dat ou motorghries aan die staander of bakstene gesmeer word om te verhoed dat miere die korf aanval en om nie korwe op die dak te plaas nie. Hou die korwe in 60% skadu in die somer.

Waar om Byekorwe te Koop?

Doen navorsing oor waar die beste kwaliteit korwe en toerusting vir byeboerdery gekoop kan word of sluit aan by 'n plaaslike vereniging wat advies kan gee oor die aankoop van korwe. Jy mag ook korwe by ervare byeboere koop. Boonop is hul advies en mentorskap noodsaaklik vir beginners. Koop byekorwe en ander byeboerderytoerusting by die vele byeboerdery toerustingmaatskappye en landboumaatskappye wat in Suid-Afrika aangetref word.

Translated by Elna Van Rhyn