Bokrasse In Suid-Afrika
Volgens die Departement: Landbou, Bosbou en Visserye (Agriculture, Forestry and Fisheries = DAFF) is daar slegs 250 stoettelers van bokke in Suid-Afrika. Bokke kom voor in alle provinsies van Suid-Afrika, met die Oos-Kaap, Limpopo en KwaZulu-Natal wat ongeveer 70% van alle bokke in Suid-Afrika teel.
Die Boerbok, Savanna en Kalahari Red word tans beskou as die drie belangrikste kommersiële bokrasse vir bokvleisproduksie in Suid-Afrika. Bokvleis afkomstig van volwasse bokke word dikwels chevon genoem, terwyl vleis afkomstig van jong bokke cabrito genoem word.
Angorabokke produseer sybokhaar en word tweekeer per jaar geskeer. Die meerderheid sybokhaarprodusente is in die Oos-Kaap en die sybokhaar word geprosesseer en verkoop in Port Elizabeth.
Inheemse bokboere en telers was in die verlede meestal gekonsentreer in die Oos-Kaap provinsie, maar is ook nou in Limpopo, Noord-Wes, KwaZulu-Natal, asook die ander provinsies van die land.
Die inheemse veldbok (indigenous veld goat = IVG) word nie as ‘n kommersiële vleisbok beskou nie weens die klein karkas en ook nie as ‘n melkbok nie, weens die feit dat hulle beswaarlik genoeg melk produseer vir hule eie lammers. Inheemse bokke is egter gesog vir gebruik in kulturele, godsdienstige en feesvieringspraktyke in Suid-Afrikaanse kulture en behaal hoë pryse op sekere tye van die jaar wanneer hierdie feesvierings plaasvind. Die inheemse veldbok kan ook velle en kasjmier lewer.
Vleisbokrasse van Suid-Afrika
Rasse soos die Boerbok, Savanna en Kalahari Red is wêreldbekend en gesog vir hul uitstaande eienskappe van aanpasbaarheid, gehardheid, goeie moedersinstinkte, vleisproduksie en hoë voortplantingstempo. Die beroemde bokras ‘Boerbok’ het sy oorsprong in Suid-Afrika. Dit is ‘n baie gewilde en produktiewe vleisbok. Chevon bevat 50% - 60-% minder vet as beesvleis, maar het dieselfde proteïeninhoud. Chevon bevat ook minder vet as hoender en het nie die ‘wilde’ smaak van wildsvleis nie.
Die Tankwa-Bok
Die Tankwa-bok, ‘n wilde bok wat voorkom in die Tankwa Karoo Nasionale Park, is in die proses om geregistreer te word as ‘n nuwe ras by die Departement: Landbou, Bosbou en Visserye (2018).
‘n Studie het getoon dat hierdie bok in ‘n aparte kategorie val as vleis- en melkbokke in Suid-Afrika en sal geregistreer word as ‘n landras tipe en nie as ‘n ‘Inheemse Veldbok’/Indigenous Veld Goat (IVG) nie.
Inheemse Velbokrasse (IVG) in Suid-Afrika
Vier ekotipes bestaan binne die klassifikasie ‘Inheemse Veldbok’ in Suid-Afrika. ‘n Ekotipe is ‘n geneties verskillende ras binne ‘n spesies (soortgelyk aan honde).
Die Nguni tipe (Mbuzi) is die kleinste van die vier en vertoon dikwels Switserse merktekens.
Die Oos-Kaapse Xhosa hangoor is ‘n groot, robuuste dier met groot hangore.
Die Noord-Kaapse Spikkelbok is ‘n groot bok met ‘n wit lyf en roobruin of swart kolle.
Die Kunene-tipe Kaokolandbok is ‘n mediumgrootte bok met lang, dun bene en is tweekleurig.
Die Inheemse Veldbokvereniging in Suid-Afrika is besig om vinnig te groei met etlike nuwe klubs wat in verskeie provinsies gestig is. Inligtingsdae en veilings is gewild en kruisings tussen die verskillende ekotipes word ontmoedig.
Melkbokboerdery in Suid-Afrika
Melkbokboerdery in Suid-Afrika word al hoe meer gewild. Weens die hoë voorkoms van allegieë vir beesmelk, is daar nog aansienlike geleenthede vir die melkbokboerderybesigheid om verder uit te brei in Suid-Afrika. Tog word die konsep van melkbokboerdery vir kleinskaalse boere in Suid-Afrika steeds nie opgeneem en bevorder deur die regering nie, ten spyte van spesialiste wat al vyf jaar lank kursusse aanbied.
Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye beskou die Saanen ras as die vernaamste melkbokras in Suid-Afrika as gevolg van hulle hoë melklewering – meer as 1 200 liter oor ‘n 10 maande laktasiesiklus. Ander melkbokrasse wat in Suid-Afrika gebruik word is die Toggenburg (grys of bruin met wit strepe op die gesig), die Britse Alpebok (swart met wit merke), Franse Alpebok, Anglo-Nubiër en die Bunte Deutsche Edelziege (BDE). Afgesien van suiwelprodukte, word bokmelk ook gebruik in liggaams- en velsorgprodukte.
Veselbokke in Suid-Afika
Skape lewer wol, maar bokke lewer vesel – kasjmier en sybokhaar. Kasjmier – ‘n tipe vesel, nie ‘n soort dier nie, word uitgekam uit die onderlaag van die bokke se hare en word hoog aangeslaan vir warmte, sagtheid en duursaamheid. Die Gorno-Altai en die Saffer is twee bokrasse wat bekend is vir hul produksie van kasjmier, terwyl die Angorabok sybokhaar lewer. Angorabokke word tweekeer per jaar geskeer (hulle verhaar nie) terwyl kasjmier versamel kan word wanneer bokke in die lente verhaar.
Studies deur die “Kasjmier Program’’, gelei deur verskeie groepe wat in die 1990’s die ‘Kasjmier werksgroep’ in Suid-Afrika gevorm het, het bewys dat inheemse bokke soos die Boerbok, twee lae hare het – die growwe beskermhare bo, en ‘n fyner of kasjmier-tipe haar onder. Uit meer as 4 000 veselmonsters wat getoets is, het meer as 80% die kasjmier-tipe dons bevat. Maar die kwaliteit kasjmier was oor die algemeen nie op ‘n kommersieel-aanvaarbare vlak nie. Gemiddelde donsveselgewig vir Boer- en Savannabokke was 25g per bok en ‘n gemiddeld van 12g per bok vir inheemse bokke. In sy verslag oor die studie het Albie L. Braun aangedui dat donsvesellengte en kasjmieropbrengs verbeter kan word deur inheemse bokooie met ingevoerde, hoë opbrengs kasjmierramme te kruis. Kasjmierproduksie is tyd-en arbeidsintensief en vereis ongeveer 20 minute om ‘n bok te kam. Tog produseer ‘n klein maatskappytjie naby Butterworth in die Oos-Kaap hoë kwaliteit kasjmierprodukte uit die vesel van die Mbuzi inheemse bokke.
Sybokhaar, waarvan meer as 50% uitgevoer word, word geproduseer deur die Angorabokke, hoofsaaklik in die Oos-Kaap en die Karoo. The South African Mohair Growers’ association (SAMGA) ondersteun Angorabokboere.
Translated by Elna Van Rhyn