Behuising vir Melkkoeie

© Louise Brodie
Indien koeie nie op ‘n weidingstelsel is nie, kan hulle in ‘n intensiewe behuisingstelsel met individuele slaapkratte aangehou word. ‘n Kleiner area word hiervoor benodig (ongeveer 10 m2 per koei) as met oopkampe. Dit sal koeie beskerm teen oormatige hittespanning, reën en modderige toestande wat tot mastitis en vrotpootjie aanleiding kan gee.

Ontwerp van Behuising vir Melkkoeie

‘n Intensiewe behuisingstelsel om alle klasse van diere in ‘n melkkudde te akkommodeer behoort deur ‘n kundige in melkbeesbehuising ontwerp te word. Die uitleg van die struktuur sal afhang van die heersende winde vir goeie ventilasie en beskerming teen reën.

Die beweging van die son moet ook in ag geneem word omdat koeie teen die son beskerm moet word wanneer hulle by die voerkrippe vreet. Voerkrippe behoort aan die suidekant van die gebou te wees met voldoende oorhang om die voere teen reën te beskerm.
Met ‘n behuisingstelsel kan misafval ook maklik bestuur word. ‘n Misafvalput om mis- en afloopwater van die melkportaal op te vang moet ook voorsien word om te voorkom dat riviere en strome besoedel word.

Betonvloere is nie ‘n natuurlike oppervlakte vir koeie nie en daarom moet koeie toegang hê tot ‘n oopkamp met ‘n grondoppervlakte om hoefprobleme te voorkom.

Strukture Nodig vir Melkkoeie

©Chris Daly
Buiten behuising vir melkbeeste is ander strukture ook nodig vir melkboerderye.
Ander fasiliteite sluit in voldoende opbergingspasie vir voere (hooi en kragvoere) en ‘n area waar voere gemeng kan word voordat dit gevoer word. Hierdie fasiliteite moet naby aan die behuisingsarea wees om arbeid te beperk.
Voerkrippe moet aan die naaste kant wees van die struktuur waar voere geberg en/of gemeng word.

‘n Plek om Koeie te Melk

In kleinskaalse melkboerderye word koeie dikwels met die hand gemelk of deur gebruik te maak van ‘n klein, vervoerbare melkmasjien. ‘n Aparte, stofvrye struktuur (of area) word hiervoor benodig.

Warm en koue lopende water moet beskikbaar wees om die spene van koeie te was voordat hulle gemelk word en ook om die melkmasjien en melkkanne voor en na melking te was. ‘n Droograk vir melkkanne en ‘n spasie om toerusting weg te pak, is ook nodig.

Wanneer groter hoeveelhede melk geproduseer word, moet ‘n groot massatenk wat melkafkoeling moontlik maak, beskikbaar wees.
Kommersiële melkboere het moderne melkstalle waar elke dier eletronies herken en haar voer outomaties afgeweeg word terwyl sy met ‘n melkmasjien gemelk word.

By Dr Carel Muller