Basilie

© Louise Brodie

Wetenskaplike naam: Ocimum basilicum
Algemene naam: Basilie, basiliekruid of basilikum

Daar word gereken dat basiliekruid van Indië af kom. Vandag word die plant regoor die wêreld gekweek om vars en droë blare sowel as essensiële olies te produseer.

Plantbeskrywing

'n Basiliebos groei ongeveer 700 mm hoog, en het 'n kruidagtige stam wat hard en stokkerig raak soos die plant ouer word. Die ligtegroen, ovaal blare het 'n ronde basis en eindig in 'n effense punt. Die blare groei tot ongeveer 80 mm lank en 30-50 mm breed. Sommige variëteite se blare het 'n rooi skynsel. Wanneer die plant volwassenheid bereik, verskyn wit tot ligpers blomme en die plant skiet saad.

Gebruike

Basilie word gekweek vir die geurige blare wat vars of droog gebruik word. Die krui word ook gebruik vir die vervaardiging van essensiële olies en ekstrakte. Die vars en gedroogte blare word in kookkuns as 'n smaakmiddel gebruik, maar word ook rou in slaaie voorgesit.
Basilie is bekend vir medisinale gebruik: dit kan naarheid, slegte spysvertering en ontsteking verlig. Dit word gebruik om angs te verlig, aangesien dit 'n liggies kalmerende effek op mense het. Basilie word ook aangewend vir migraines, en daar word gereken dat dit epilepsielyers kan help.

Grondvereistes en Voorbereiding

Basilie verkies goed gedreineerde, sanderige leemgrond ryk aan organiese materiaal. Die plant kan in grond met pH-vlakke van 4.5 tot 8 groei, maar verkies grond met 'n pH-vlak van 6.5.
Wanneer die grond voorberei word vir aanplanting, is dit noodsaaklik om genoeg organiese bemesting of kompos in die grond in te werk. Die bemesting moet reeds 'n maand voor aanplanting ingeploeg word om enige onkruid kans te gee om te ontkiem. Die grond moet dan die week voor aanplanting met 'n skotteleg geploeg word sodat die onkruid verwyder en die plantarea gelyk gemaak kan word.

Klimaat

Basilie groei die beste in gematigde klimate met temperature tussen 12°C en 28°C. Dit benodig 'n temperatuur hoër as 20°C om te ontkiem. Die plant is sensitief vir ryp. Oormatige hitte en koue sal die basilieplant en sy baie sensitiewe blare beskadig.

Kultivars

Gewilde kultivars vir kommersiële verbouing sluit in: Anise, Camphor, Cinnamon, Dani, Dark Opal, Genovese, Large leaf, Lemon, Mammoth, Purple ruffles en Sweet.
Dit is raadsaam om plaaslike advies oor groeipraktyke te kry, en die saadvoorsiener se raad te vra oor die beste variëteit vir die teikenmark.
Moenie iets plant voordat die mark daarvoor nie bekend is nie.

Translated by Rentia Pretorius