Basiese Higiëne in Melkboerdery

©Chris Daly
Die melkportaal waar koeie gemelk word, moet ten alle tye skoon wees. Dit moet in ‘n skoon omgewing wees en daar moet nie enige plekke wees wat melk kan besmet nie. Dit moet eenkant en apart wees van die area waar toerusting gewas word.
Deur die melkportaal, die behuisingsomgewing van koeie, uiers en die omgewing skoon te hou, sal verseker dat melk higiënies geproduseer word en die verspreiding van siektes voorkom.
Die plek waar koeie aangehou word, moet altyd skoon wees met skoon beddegoed (strooi of houtsaagsels), met water- en voerkrippe. Die behuisingseenheid moet goed geventileer is.
Dit is ook belangrik dat daar nie insekte, voëls en knaagdiere soos rotte en muise in die melkportaal is nie. Troeteldiere en hoenders moet ook nie in die melkkamer, melkstoorkamer of behuisingstelsel aangehou word nie.

Melkstal Higiëne

Die vloere van die melkportaal moet van beton wees sodat dit voor en na melktyd gewas of ten minste afgespoel kan word. Hou in gedagte dat warm, nat toestande aanleiding gee tot die toename van bakterieë.
Melkers moet hul hande was voordat koeie gemelk word en ook nadat elke koei gemelk is. (Dit is ook ‘n goeie praktyk wanneer koeie met ‘n melkmasjien gemelk word).
Melkers moet ook beskermde klere soos handskoene, waterskoene en ‘n oorpak dra. Nadat koeie gemelk is moet melkers hul hande was met water waarin ‘n ontsmettingsmiddel opgelos is.
Melk moet in ‘n vlekvrye staalemmer (nie ‘n plastiekemmer nie) opgevang word.

Melkprosedure

©Chris Daly
Koeie word ongeveer elke 12 ure, vroegoggend en laatmiddag, gemelk word. In kommersiële kuddes word koeie tot drie maal per dag gemelk.
‘n Spesifieke prosedure moet gevolg word:
Melk die eerste-laktasiekoeie eerste, daarna die koeie wat vars in melk is, daarna ouer koeie en hierna die koeie met mastitis. Ouer koeie is meer geneig om uierinfeksies (mastitis) te kry omdat hulle meer melk produseer en speenpunte soms beskadig is weens oormelking.
Mastitis-melk moet weggegooi word en nie met gesonde melk gemeng word nie. Nadat ‘n koei met mastitis gemelk is, moet melkers hul hande was en ontsmet om die verspreiding van die infeksie te voorkom.

Was van die Uier

©Chris Daly
Voordat koeie gemelk kan word moet die spene en onderste deel van die uier met lopende water gewas word om mis en stof te verwyder. (Dit is ‘n ook goeie stimulasie om die melkvloei aan die gang te kry). Hierna moet die spene en uier met ‘n papierhanddoek afgedroog word. Dan word die voormelk in die speen met die hand uitgemelk (Eng: ‘fore-milking’). Hierna word die kloustukke aangesit om koeie te melk.
Navorsing het aangedui dat die was van spene vir ten minste 20 sekondes 50% meer doeltreffend is as wanneer die spene net vir ses sekondes gewas word. Meer onlangse navorsing bevestig dat vir lae bakteriese tellings, die spene ook droog moet wees voordat koeie gemelk word.
Baie vuil uiers kan met skoon warm water met ‘n bietjie ontsmettingsmiddel daarin opgelos, gewas word. Dit moet daarna met ‘n papierhanddoek afgedroog word. Moet nooit dieselfde handdoek vir verskillende koeie gebruik nie. ‘n Speendoop kan voor en na melk gebruik word om die beste uier-higiëne te verseker.

Speendoop

©Chris Daly
‘n Speendoop is belangrik om mastitis te voorkom en beheer. Dit kan nuwe infeksies met 70% – 80% verminder.
Die ideale speendoop bevat gliserien, lanolien of ‘n ander velversagmiddel. Doop die spene voordat gemelk word maar moenie dat speendoop in die melk kom nie. Dus: maak spene skoon, doop vir 30 sekondes, toets vir mastitis en droog af met ‘n papierhanddoek.
Daar is ‘n verskil tussen die voor-melk speendoop en die na-melk speendoop. Gebruik die speendoop volgens die gebruiksaanwysings. Doop spene onmiddellik nadat klaar gemelk is in die na-melk speendoop. Gebruik ‘n spesiale speendoopbekertjie of speendoopspuit om te voorkom dat patogene die speenkanaal binnedring. Was die speendoopbekertjie deeglik na gebruik.

Die Skoonmaak van Melktoerusting

©Chris Daly
Melktoerusting en -apparaat moet gewas word onmiddellik nadat koeie gemelk is. Spoel al die toerusting eers met louwarm water en was dan daarna met warm water.
Nadat al die toerusting gewas is, moet die hele sisteem met skoon water gespoel word, waarna dit gedreineer moet word en tyd gegee word om droog te word. Dit moet droog wees voor die volgende melkproses.

By Dr Carel Muller