Amadumbe

© Marinda Louw

Die amadumbe of “potato of the tropics” (Colocasia esculenta) staan ook bekend as mufhongwe, madumbis, taro of dasheen, maar is nie verwant aan die werklike aartappel nie. Amadumbe word al vir meer as 6 000 jaar in Suid-Oos-Asië verbou en is in die 1500’s deur Portugese handelaars, en later deur Indiese kontrakwerkers na Suidelike Afrika gebring.

Dis ‘n kruidagtige, tropiese wortelgewas wat op die Suid-Afrikaanse moeraslande verbou word en is een van die belangrikste wortelgroente voedselgewasse in die wêreld. Tannia (Xanthosoma sagittifolium) of olifantsore is nog ‘n belangrike wortelgewas wat op groot skaal in Wes-Afrikaanse lande verbou word en verkies word bo amadumbe weens die groter opbrengs wat dit lewer.

Terselfdertyd kom 90% van die wêreld se kommersiële produksie van die amadumbe tog uit Wes-Afrikaanse lande soos Kameroen, Nigerië en Ghana. In Suid-Afrika is die amadumbe eers hoofsaaklik verbou deur bestaansboere in KwaZulu-Natal, Mpumalanga, Wes- en die Oos-Kaap, maar nadat ‘n bekende kleinhandelaarkettinggroep dit begin verkoop het, het die status van hierdie tradisionele groente en stapelvoedsel gestyg.

Hoe om Amadumbes te Kweek

Die amadumbe is ‘n tolvormige buisagtige knol of stingelvoet (ook in Engels ‘n ‘mammy’ genoem). Dit het ‘n skurwe bruin skil en weeg vanaf 500 tot 900 g, maar kan tot so swaar as 3,6 kg word. Die vleis is wit of pienk. Die amadumbe verkies half-skadu, maar kan in die volson gekweek word indien dit natgelei of besproei word.

Dit het ‘n warm klimaat nodig en is nie rypbestand nie. Dit groei in effense suur, klam grond met baie organiese materiaal of kompos. Dit kan gekweek word deur middel van heel knolle of snitte van knolle. Plant met die hand met die gesnyde kant na onder en effens skuins, ongeveer 15 cm diep. Plant amadumbes 60cm uitmekaar met ‘n 1 m spasie tussen die rye.

Die beste planttyd is Desember tot April of wanneer die grond klam is. Bemes met NPK (15:15:1). Dit dui die stikstof ratio (N: 15 eenhede) teenoor die fosfor ratio (P: 15 eenhede) teenoor die kalium ratio (K: een eenheid) aan. Sprinkel 6 Cokedoppiesvol NPK in ‘n sirkel van ongeveer 10 cm rondom die plant.

Amadumbe is kwesbaar vir peste soos wit miere en knaagdiere en is geneig tot wortelvrot as dit in waterdeurdrenkte grond geplant is. Dis egter bestand teen die tandmol wat gewasse soos aartappels en wortels verkies, omdat die amadumbe giftig is as dit rou geëet word weens ‘n hoë vlak van kalsium oksalaat kristalle wat inflammasie van die mond en die keel veroorsaak.

Amadumbe word na agt tot tien maande geoes wanneer die blare geel word. Die knolle word uitgehaal met ‘n graaf of ‘n trekker met ‘n spesiale plaat. Die knolle word skoongemaak, gesorteer en verpak.

Navorsing wat in 2008 deur Prudence Ntombifikile Tembe in die platteland van KwaZulu-Natal gedoen is, het gewys dat kleinhandelaars ‘n gereelde voorraad klein- tot mediumgrootte amadumbes verkies wat skoon- en drooggemaak, en in kratte verpak is. Die grootste uitdaging vir die plattelandse produsente was die vervoer van die amadumbes na die markte toe.

Die Eet van Amadumbes

Die amadumbe het ‘n ryk, aardse geur, bevat baie koolhidrate (laeGI) en bevat meer aminosure en proteïene as enige ander wortelgewas. Dit bevat 9% proteïene teenoor aartappels se 1.9% en patats se 1.7%. Dit is ryk aan vesel, magnesium, kalsium, yster, vitamien A, vitamien B1, vitamien B2 en vitamien C.

Amadumbes word gaargemaak soos aartappels of patats en kan gekook, gebak of gerooster word sowel as kapok (fyngemaak), skyfies of in bredies voorgesit word. Fyngemaakte amadumbe word gebruik as speningskos. Die blare, en soms die stingels, word soos spinasie geëet en verskaf ‘n aanvulling saam met mieliepap, of word gekook met klappermelk en bedien saam met gekookte amadumbe.

Die Indiese gemeenskap in KwaZulu-Natal het amadumbe in hul dieet geïnkorporeer as ‘puri patta’. Die blare word gesmeer met ‘n gespeseryde beslag, gerol en gestoom en dan opgesny en in pannekoeke bedien.

Die blomme van die amadumbe (ook genoem ‘aroids’) word verwerk in meel om ‘fufu’ te maak wat gewild is saam met bredie in Nigerië. Tradisioneel is amadumbe verbou as ‘n stapelvoedsel, maar gedurende die afgelope paar jare is dit gebruik vir ander voedselprodukte. Dit sluit in ‘n amadumbe en spinasiepizzabasis, kerrie en amadumbevlokkies.

Translated by Elna van Rhyn