Alpakkaboerdery in Suid-Afrika is ‘n jong bedryf. Dit het begin in die vroeë 2000s toe 60 diere uit Chile ingevoer is deur Dr Gavin Lindhorst, ‘n alpakkateler van Inca Vale Alpacas naby Wellington in die Wes-Kaap.
Alpakkas word aangehou as troeteldiere, as bewakers van skaaptroppe, as teeldiere, maar meestal vir hul hoë kwaliteit haar wat gebruik word vir die maak van gebreide en geweefde items.
Alpakkas het gekussingde pote, ‘n effektiewe spysverteringstelsel en toon ‘n hoë weerstand teen interne en eksterne parasiete. Hierdie eienskappe, tesame met die goeie isolerende eienskappe van hulle haar, bied aan die alpakka reuse potensiaal vir kommersiële alpakkahaarproduksie.
Alpakkas (Vicungna pacos) is herkouende diere wat verwant is aan die Suid-Amerikaanse kameelfamilie en kom oorspronklik uit die Andes Gebergtes in suidelike Peru, Bolivië, Ecuador en die noordelike deel van Chile. Die meeste van die 3-5 miljoen alpakkas in Suid-Amerika word gevind in Peru, in areas 3 000 m bo seevlak.
Alpakkas is makgemaakte weergawes van vicuñas, Suid-Amerikaanse herkouers (herkouers is diere met ‘n vier-delige maag) wat ook hoog in die Andes gebly het. Ander lede van hierdie kameel-familie is die llama en die tweebultige Baktriese kameel wat inheems is aan Asië.
Hoewel hulle sorg vir vleis vir die mense in lande waar hulle inheems is, word alpakkas hoofsaaklik geteel vir hulle skeerwol, terwyl die stewiger llamas geteel word om swaar vragte te dra. Die langbeen alpakka raak tot ongeveer 94 - 104 cm hoog (by die skouer) en kan tussen 55 en 85 kg weeg. Hulle leef tot 20 jaar en het ‘n dragtigheidsperiode van 11.5 maande.
Alpakkas is wakker, nuuskierig, kalm en voorspelbaar en het die geselskap van ander alpakkas nodig. Hierdie rustige en intelligente diere is maklik om te hanteer en word gou kinder- en hond-vriendelike troeteldiere.
Alpakkas gebruik geluide (bv. ‘n sagte brom) en lyftaal (bv. die kop word skuins gehou, asook oorbewegings) om hulleself uit te druk. Hulle het uitstekende sig en gehoor en mag ‘n staccato-tipe geluid maak as hulle gevaar bespeur. As hulle verskrik is sal hulle as ‘n trop saam beweeg, en mag spoeg as hulle bedreig of geïrriteerd is.
Terwyl die wilde vicuñas in hoë en droë, of laagliggende nat gebiede woon, is die makgemaakte alpakkas ewe aanpasbaar en gehard, maar word meestal gevind op plase en in vrylopende boerderysisteme.
Peru, waar die meeste alpakkas gevind word, het die beste genetika en vooruitstrewende veselverwerkingsfasiliteite. Peru is die wêreld se grootste produsent van alpakkavesel en kledingstukke, met ongeveer 80% van die wêreld se alpakkaprodukte.
Kanadese, Amerikaanse, Nie-Seelandse en Australiese alpakkakuddes groei en daar word voorspel dat Amerika teen ongeveer 2020 tot 25% van die wêreld se alpakkaproduksie mag lewer.
China is die grootste invoerder van alpakkavesel in die wêreld.
Australië is baie gevorderd in terme van alpakka genetika en rasverbetering en is ‘n goeie bron van ingevoerde alpakkas vir Amerika.
Terwyl alpakkas makgemaakte diere was wat as toeteldiere, voedsel en veselbronne gedien het vir die antieke stamme wat in die Andesgebergtes gewoon het, is alpakkas in die Suid-Amerikas hoofsaaklik geteel vir hulle haar. Die baie fyn vesel is gebruik om kledingstukke te brei en te weef wat gewissel het van babaklere tot luukse pakke.
Die Suid-Amerikaanse Quechua mense wat op ‘n baie hoë hoogte bo seevlak woon, eet steeds alpakkavleis, maar die dier word nie kommersieel aangewend vir vleis of melk nie. Alpakkas het baie klein speentjies - so groot soos potloodpunte - en dis baie moeilik om hulle te melk.
Alpakkaramme is uitstekende wagdiere en is al met groot sukses in Suid-Afrika gebruik om skaaptroppe op te pas. Hulle het ‘n sterk herdersinstink en sal enigiets wat hul trop bedreig, spoeg, sis, byt en skop.
Alpakkas word ook verkoop as teeldiere om die genetiese materiaal van ander alpakkastoete te verbeter, en is uitstekende, intelligente troeteldiere met ‘n egalige humeur.
Translated by Elna Van Rhyn