Winnie Mandela Hou aan met die Stryd

Gearresteer en gemartel

©Eric Miller
Ten spyte van inperkingsbevele wat haar bewegings beperk het, het Winnie Mandela aktief gebly in die stryd teen rasseskeiding. In 1969 is sy gearresteer ingevolge Artikel 6 van die Wet op Terrorisme, waarvolgens enigeen wat verdink word daarvan om 'n gevaar vir wet en orde in te hou, gearresteer kan word sonder 'n lasbrief en onbepaald aangehou kan word sonder regshulp.
Terwyl Winnie in aahouding was, het sy 18 maande in alleenaanhouding deurgebring, waarvan die eerste 200 dae sonder enige menslike kontak was, behalwe vir die ondervragingspan wat haar onophoudelik gemartel het. Haar tronksel het drie dun, insek-belaaide, uriengevlekte komberse, 'n plastiek waterbottel, 'n koppie en 'n sanitêre emmer sonder 'n handvadsel bevat. 'n Kaal gloeilamp het aaneen bo haar gebrand, en haar dae en nagte het inmekaar gevloei.
Die marteling onder hierdie omstandighede was baie wreed. Winnie is vir vyf dae van slaap weerhou terwyl die ondervraers haar gedruk het vir inligting. Uiteindelik het hulle 'n ander gevangene ingebring en moes sy toekyk hoe hulle hom martel. Die ondervraers het vir haar gesê dat haar verset die oorsaak was van hierdie en ander gemartelde gevangenes se pyn.

Stryd om Aan te Pas

©Eric Miller
Nadat sy vir dae marteling verduur het en ook die marteling van die ander gevangene moes aanskou, het Winnie uiteindelik ingegee en belowe om die ondervraers se vrae te beantwoord. Haar verhoor het in Desember 1969 begin, en die uitslag daarvan was haar vrylating sonder 'n skuldigbevinding. 'n Nuwe inperkingsbevel is egter aan haar uitgereik, dié een nog meer beperkend as die vorige. Sy is verbied om haar huis tussen 6 am en 6 pm te verlaat.
Winnie het haar pa in die Transkei besoek voordat die bevel van krag geword het. Sedert sy die vorige keer met haar pa gepraat het, het hy ontnugter geraak met die tuisland-sisteem wat deur die apartheid-regering ingestel is. Tewyl die inperkingsbevel van krag was, het sy ook haar man, Nelson Mandela, op Robbeneiland besoek. Die voorwaardes wat op die besoek geplaas is, het die situasie so onnatuurlik gemaak dat Winnie nie vryelik met haar man kon praat nie, en sy is baie teleurgesteld en ontevrede daar weg.
Terug by die huis, het Winnie gesukkel om aan te pas. Die polisie het volgehou met hulle klopjagte, en haar huis is gereeld beskadig, by ingebreek en met bomme gegooi. Ten spyte van alles wat Winnie moes verdra, het haar oortuiging in die saak net sterkter geword en het sy aangehou om die boodskap uit te stuur dat sy nie geïntimideer sal word nie.

Gebruik as 'n Sondebok

©Eric Miller
Winnie is weer in 1973 gearresteer omdat sy 'n ander ingeperkte persoon, die fotograaf Peter Magubane, ontmoet het. Sy het haar twaalf maande tronkstraf in Kroonstad se vrouetronk uitgedien, maar sy het haar tyd hier baie makliker gevind, en is ses maande vroeg vrygelaat. Toe haar inperkingsbevel in 1975 verstryk, is dit nie hernu nie.
Winnie het nou betrokke geraak by die Soweto studente-opstande van 1976. Sy het gehelp om die Soweto Parents' Association te vestig, en het diegene wat gearresteer is of seergekry het in die betogings bygestaan. Al het Winnie net 'n ondersteunende rol in die opstande gespeel, het die regering 'n sondebok van haar gemaak. Hulle het haar in hegtenis geneem en vir vyf maande aangehou voordat hulle haar met nog 'n inperkingsbevel in 1977 vrygelaat het.

Verban na Brandfort

1977 is ook die jaar wat Winnie Mandela na die stowwerige dorpie Brandfort in die Vrystaat verban is. Sy is gedwing om vir die volgende agt jaar daar te bly. Regeringsamptenare het vir die inwoners van Brandfort gesê dat Winnie gevaarlik is en dat hulle haar ten alle koste moes vermy.
Winnie se aktivisme was egter onuitputlik, en sy het dit reggekry om 'n gemeenskap rondom haar op te bou. Terwyl sy in Brandfort was, het sy 'n sopkombuis, plaaslike gemeenskapstuin, mobiele gesondheidseenheid, dagsorgsentrum, naaldwerkklub, en 'n organisasie vir weeskinders en jong oortreders begin.

Translated by Rentia Pretorius