Nadat Winnie van haar ballingskap in Brandfort verlos is, kon sy teruggaan huis toe in 1986. Met haar terugkeer het sy gevind dat haar woonbuurt meer gevaarlik geraak het as gevolg van die oproerige jeug en die regering wat 'n noodtoestand aangekondig het. In 'n poging om mense wat met die chaos deurmekaar geraak het te help, het Winnie die Mandela United Football Club (MUFC) vir die stemlose jeug gestig.
Ongelukkig word hierdie groep meestal vir sy vigilante-aktiwiteite onthou. Die klub het met leerlinge van die Daliwonga Hoërskool gebots, wat daartoe gelei het dat Winnie en Nelson Mandela se huis in Orlando-Wes tot op die grond afgebrand is. Gerugte het die rondte gedoen dat die MUFC verantwoordelik was vir aanvalle, ontvoerings en marteling.
Die bekendste van hierdie gerugte is die storie van Stompie Seipei. Stompie was 'n 14-jarige aktivis wat in een dag in 1988 in die geselskap van die MUFC verdwyn het. Sy liggaam is later in die buitewyke van Soweto gevind. He is kwaai geslaan en uiteindelik met 'n tuinskêr doodgemaak.
'n Vriend van Winnie, Dr Abu Baker Asvat, het Stompie behandel vir sy beserings voordat hy dood is. Asvat het berig dat Stompie permanente breinskade opgedoen het, gebraak het en nie kon eet nie. 'n Paar dae na hierdie verslag is Dr Asvat deur twee mans wat hulle as pasiënte voorgedoen het, vermoor.
Winne se verbintenis met die MUFC en hulle aktiwiteite het baie omstredenheid veroorsaak. Dit blyk asof jare se teistering, emosionele trauma, en die ervarings van gevangenisstraf en ballingskap Winnie verhard het, en sy is mettertyd as 'n tipe soldaat op die grond gesien.
Dit is beweer dat haar benadering meer geweldadig en militêr begin raak het. In een van haar bekende toesprake het Winnie verklaar, "saam, hand aan hand, met ons boksies vuurhoutjies en ons halssnoere, sal ons hierdie land bevry".
Hierdie uitspraak het glo verwys na die uitvoering van "halssnoermoorde", 'n martelings- en teregstellingsmetode waartydens 'n motorband om 'n persoon se bors gesit en aan die brand gesteek word. Daar word gesê dat Winnie hierdie praktyk in haar toespraak ondersteun het en aan baie halssnoermoord-insidente gekoppel was.
In 1990 is die verbod op die ANC amptelik gelig. Nelson Mandela en die ander politieke gevangenes is vrygelaat, en Winnie is na 27 jaar met haar man herenig. Daarna, met bevryding wat naderkom, het Nelson en Winnie hulself in 'n warrelwind van vergarderings en toesprake, reise en perskonferensies bevind. Winnie Mandela is in September van daardie jaar as die ANC se hoof van Sosiale Welsyn aangewys.
In 1991 is Winnie en haar medepligtiges van die MUFC verhoor vir die ontvoering van en moord op Stompie Seipei. Winnie is van moord vrygespreek, maar is 'n vyf jaar vonnis opgelê vir vier aanklagte van ontvoering en nog 'n jaar as 'n medepligtige aan aanranding.
Dit is uiteindelik verminder na 'n twee jaar opgeskorte vonnis en 'n R15 000 boete. Die verhoor en die omstredenheid rondom Winnie Mandela het hul tol geëis op haar huwelik. Die beeld van Nelson en Winnie as 'n gelukkige paartjie het begin kwyn soos gerugte van 'n buite-egtelike verhouding begin versprei het. In 1992 het die twee hul skeiding aangekondig, waarna Winnie van al haar ANC poste bedank het. Winnie en Nelson Mandela se egskeiding is in 1996 gefinaliseer.
Translated by Rentia Pretorius