Wat is die Oorpeultjie?

© Forest and Kim Starr
Ook bekend as die African Spider Flower, Wild Spider Flower, Cat’s Whiskers en African Cabbage, word die blare, jong stingels en blomme van die oorpeultjie (Cleome gynandra) deur mense verbruik en beskou as een van die vele ‘African leafy vegetables’ – bekend as morogo of imifino in Suid-Afrika. Dit is bevestig dat die plant ryk is aan minerale, vitamienes en aminosure en dit word oral in die Suid-Afrikaanse platteland gebruik. Dis ook bekend as ‘letrotho’ (Sepedi en Sesotho), ‘murudi’ (Tshivenda), ‘rirudzi, bangala’ (Xitsonga) en’ ulude’ (isiNdebele), en is vermoedelik van oorsprong uit tropiese en Suid-Oos Asië.
Cleome gynandra word meestal as ‘n blaargroente gebruik, maar Cleome monphylla en Cleome hirta (‘n gewilde tuinplant) word ook soms gebruik.
Die oorpeultjie kom wydverspreid voor vanaf Namibië tot Limpopo en word beskou as ‘n ‘onkruid’. Hoewel dit nie baie verbou word nie, word dit dikwels aangetref in versteurde grond soos in die huiswerf se agterplaas. Dit word meestal as ‘n oorlewingsgewas verbuik en ook deur straatsmouse verkoop.
Die oorpeultjie is ‘n kruidagtige, regopgroeiende plant wat tussen 0.5 m en 1.5 m hoog word. Dit het ‘n taai, harige stingel, saamgestelde blare, ‘n lang penwortel en ‘n veelvoudige blomkop (wat na ‘n spinnekop lyk, vandaar die Engelse naam ‘Spider Flower’) van langsteel blomme met wit tot pienk blare. Dis ‘n vertakkende plant wat stokkerig kan raak met ouderdom. Die beste dele om te eet is die blare en groeipunte.
Navorsing in Indië het bewys dat die oorpeultjie anti-inflammatoriese, vrye radikaalvretende, antikankervormende en antidiabetiese samestellings bevat. Die plant word okk gewaardeer vir sy beskermende kwaliteite – ekstrakte weer dopluise, bladluise, blaaspootjies en die diamondback moth af - ernstige bedreigings vir kool.

Hoe om die Oorpeultjie te Kweek

Die oorpeultjie word van saad gekweek en floreer in temperature van tussen 18 en 25 grade. Dit hou nie van swaar kleigrond, koue klimaat en skaduwee nie. Saad moet met droë sand gemeng word teen ‘n ratio van 1:10 en vlak geplant word in rye wat 30 cm – 50 cm uitmekaar is. Plante kan 15 cm uitmekaar gespasieer word. Hoewel hulle droogtebestand is, groei plante die beste wanneer hulle gereeld natgemaak word – drie keer per week in sandgrond, maar slegs een keer per week in kleigrond. Waterstres beperk blaar-opbrengs.
Die oorpeultjie reageer goed in meer vrugbare grond en met die toediening van stikstof kan die opbrengs verhoog word. Baie hoë stikstof sal egter vlesige stingels veroorsaak wat vernuwing sal verminder. Gebruik ‘n 10-liter emmer om te bemes met vars hoender-of varkmis. Versprei oor ‘n area van 20 cm wyd en 15m lank. Gebruik dieselfde hoeveelheid beesmis oor ‘n lengte van 5 m. Werk altyd die mis in die grond in, maak nat en wag 14 day voordat jy plant.
Die oorpeultjie is kwesbaar vir kompetisie deur onkruid en peste soos slakke, nematodes/rondewurm en insekte, maar die grootste vyande is kewers en Bagrada kewers. Plant knoffel, uie of pietersielie saam met oorpeultjies om besmetting te verminder.
Moedig natuurlike vyande aan: die eiers van die Bagrada bugs word deur klein perdebytjies geëet. ‘n Mengsel van chillie, knoffel en paraffien blyk doeltreffend te wees teen Bagrada bugs aangesien dit help om jong goggas af te was.
Oorpeultjies word bestuif deur vlieënde insekte en miere. Die oes van blare begin vier tot ses weke na ontkieming en in die somer, gedurende die eerste reëns, tot herfs. Blare kan ook gepluk word sodra die plante ongeveer 15 cm hoog is. Blare word vars geëet, maar kan ook gekook en soos spinasie geëet word.

Mediese Vrywaring

Inligting is slegs vir opvoedkundige en inligtingdoeleindes en mag nie as mediese advies geïnterpreteer word nie. Die inligting is nie bedoel om mediese advies of behandeling te vervang wat deur gesondheidswerkers aangebied word nie.

Translated by Elna van Rhyn