Vredefort in die 20ste Eeu

© David Fleminger

Die Vredefort Streek

Nadat die 2de Anglo-Boereoorlog geëindig het was die Vredefort-streek se ekonomie in ’n toestand. Baie boere het na hulle afgebrande plase teruggekeer en honderde wit plaaswerkers (bywoners) was behoeftig. In ’n poging om die gebied se ekonomie weer op te bou, het die regering ’n werkskema begin en die infrastruktuur is met behulp van die plaaslike arbeiders opgegradeer.
’n Brug is in 1915 in Parys oor die Vaalrivier gebou. Spoorlyne is verleng, paaie is verbeter en fabrieke is gebou. Besproeiingskemas soos die Vaaldam is ook opgerig. Stadig maar seker het die situasie verbeter en kommersiële landbou het begin floreer. Vandag is Parys in die hart van ’n goed ontwikkelde boerderygemeenskap wat mielies, tabak, sonneblomme en neute produseer sowel as gesonde beesboerderye het. Toerisme dra ook baie tot die streek se ekonomie by.

Die Apartheid Bedreiging

Die 20ste eeu het ook apartheid gebring en swart plaaswerkers het nie ’n maklike tyd gehad nie. Een besonder aangrypende saak behels die mense van Machaviestad, naby Potchefstroom. Die inwoners van Machaviestad (deel van die Barolong-stam) het sedert die 1840’s daar gewoon. Andries Potgieter het aan hulle hierdie stuk land gegee as bedanking vir hulle ondersteuning in die stryd teen die Matabele. Teen die 1920’s het die wit boere egter ontevrede geword met die toenemende bevolking swartmense op hulle drumpel en verskeie pogings is aangewend om hulle te verskuif. Die Barolong het egter sterk gestaan en geweier om te skuif.

Gewelddadig Verwyder

Ten slotte, in 1971, het die regering en die Potchefstroom Stadsraad gedreig om hulle gewelddadig te verwyder. Die Barolong het uiteindelik toegegee en is na Rooigrond, naby Mafikeng in Bophuthatswana, verskuif. Vir die volgende 30 jaar het hulle probeer om hulle land in Machaviestad terug te kry, maar dit was tevergeefs.
Gelukkig, na die demokratiese verkiesing van 1994, het ’n nuwe regering aan bewind gekom en die Machaviestad-kwessie is weer opgehaal. Hierdie keer is daar ooreengekom dat die Stadsraad die grond van die huidige eienaars sal terugkoop en dit aan die Barolong-mense terugbesorg. Op 28 April 1995, presies een jaar na die verkiesing, het die eerste van die 110 families na Machaviestad teruggekeer.

Translated by Ananda Schoeman