Lowerbestuur

© Louise Brodie

Lowerbestuur is die proses waar die wingerd se lote en blare so bestuur word dat ’n goeie produksie teen die regte kwaliteit verkry word vir die verskillende wyntipes. Redes vir lowerbestuur sluit in: Om te sorg dat daar genoeg gesonde blare beskikbaar is. Verseker dat die blare blootgestel is aan sonlig en nie te veel skadu binne die stok is nie. Om te sorg dat onvrugbare lootjies nie draers versmoor nie.

Om betyds die plant se groei tydelik te stop deur middel van tip - en topaksies sodat alle kos en water eers direk na die tros gaan. Wind moet deur die lote en blare kan waai sodat die blare gou kan afdroog en nie swam- siektes kry nie. Vir die stok se blare om goed te fotosinteer moet dit ten beste aan sonlig blootgestel word.

Hoe digter die blaredak, hoe minder son kry die binneblare en hoe swakker funksioneer hulle. Geel blare aan die binnekant is ’n teken van te min sonlig en verlaag die kwaliteit en produksie van die wingerd. Goeie loofbestuur hou die stokke vrugbaar sodat dit elke jaar ’n goeie oes kan lewer.

Sonlig om die ogies van November tot Desember is baie belangrik om ’n blomtrossie te vorm vir die volgende jaar se oes. Goeie loofbestuur verbeter die mikroklimaat in die stok. Genoegsame lig en lug moet binne in die stokke beskikbaar wees aangesien ’n digte stok bly langer nat en meer swamsiektes so kan ontwikkel.

Maniere van Lowerbestuur

Suier is die verwydering van alle ongewenste lote op die stok. Dit kan alle lote wees wat geen druiwe dra nie, op die stamme en in die mikke uitbot of lote wat tussen die draers uitbot. Die verwydering van die oortollige lote bevorder deurlugting, verbeter sonlig in die lower en meer voedsel is ook dan beskikbaar vir die oorblywende lote. Hierdie lootjies wat weggesuier word, is meestal ook onvrugbaar, aangesien dit uit hout ontwikkel het wat ouer as een jaar is.

Buitendien, te veel lote op ’n stok veroorsaak digte lower wat tot onvrugbaarheid aanleiding kan gee. Suieraksies gebeur gewoonlik in ’n aantal stappe. Net na bot wanneer lote sowat 2 - 5 cm lank is kan die botsels en jong lootjies op die stamme en in mikke afgevryf word. Met die tweede suieraksie word al die lote tussen die draers weg gesuier behalwe waar ’n nuwe draer gevorm moet word. Die derde suieraksie is wanneer die lote op die draer ongeveer 15cm lank is.

Dan word daar slegs twee tot drie lote op die draer gelos. Hoe korter die lootjies is wanneer hulle weggesuier word, hoe beter, want dan laat dit ook nie groot wonde agter nie. Suier moet voor blom voltooi wees. Tip is die verwydering van die voorste 2 - 5 cm van die groeipunt. Dit kan met die hand verwyder word en tydens die hele seisoen gedoen word.

Top is die verwydering van die voorste 15 - 25 cm van die loot. By sterk, geilgroeiende wingerd kan soveel as 60 cm van die voorste gedeelte van die loot afgeknip word ten einde die wingerdry oop te maak. Dit word gewoonlik meganies gedoen. Die insteek van die lote is wanneer werkers die lote wat buite die loofdrade gegroei het, weer tussen die drade indruk en weer regop trek.

Blare is die fabriek van die stok. In Suid-Afrika moet die druiwe verkieslik agter een laag blare wees. Blare wat verwyder word, verbeter sonlig in ’n digte lower en meer lig beteken meer fotosintese.

Ons wil ook meer sonlig op die basis-oë hê om die vrugbaarheid te verhoog. Die lower word beter deurlug as die blare uitgebreek word en dit verseker beter siektebeheer. Blare moet verkieslik vroeg in die seisoen, net na blom, verwyder word indien ons meer sonlig op die druiwe wil hê, sodat die lower kans het om later in die seisoen, wanneer dit warmer is, die druiwe weer toe te maak.

Hierdie vroeë blarebreek-aksie word in die trossone gedoen. Waar sonbrand wel skade kan veroorsaak, behoort blare slegs aan die oggend sonkant verwyder te word. Oesbeheer is die afgooi van trosse om te swaar drag op jong of swak lote te voorkom.

Dit help ook om troskoeke uit te dun sodat swak kleur en stukkend druk verhoed word. Ten einde hoë kwaliteit druiwe te produseer is dit soms nodig om oortollige trosse te verwyder. Daar moet egter vooraf ’n opname gedoen word om te bepaal hoeveel trosse gelos moet word. Dit word hoofsaaklik by rooiwynsoorte toegepas.

Translated by Marinda Louw