Druiwe Swaminfeksies - Streepvlek en Botrytis

© Tom Maack
Botrytis on Riesling grapes.

Streepvlek

Streepvlek word deur die swam Phomopsis viticola veroorsaak. Simptome van streepvlek sluit in donkerbruin, lensvormige letsels op die onderste twee tot drie litte van die lote. Dit is vroeg in die seisoen sigbaar, net na bot. Dit het oesverliese tot gevolg aansien lote naby die letsels kan afbreek.

Ronde geel kolle met ’n swart spikkel in die middel verskyn op die blare - kan maklik verwar kan word met skade a.g.v die paraquat-spuitstof. Streepvlek word beheer vanaf bot tot voor blom. Lote met letsels moet verwyder word met snoeityd aangesien hierdie letsels nuwe infeksies veroorsaak.

Botrytis

Botrytis - ook genoem vaalvrot - begin as ligbruin verkleuring van die dop van die korrel. Die skil kan wegglip vanaf die weefsel (die mees kenmerkende simptoom) en onder vogtige toestande kan grys swamspore op die korrel gesien word.

Dit word veroorsaak deur die Botrytis cinerea swam en kan tot lei tot die maak van ‘edelvrot’ wit wyne wat gesog is weens hul spesifieke karakter. In die meeste gevalle lei botrytis tot swak oeste en lae kwaliteit wyn en by rooiwyne, dikwels tot wangeure.

Botrytis kan beheer word deur swamdoders vanaf blom tot oes te spuit. Beheer vanaf deurslaan (wanneer die korrels begin rypword en verkleur) tot oestyd is baie belangrik. Loofbestuur is nodig om digte blare te verminder - hoe digter die blare, hoe meer humied die mikroklimaat om die trosse.

Hierdie vogtige omgewing bevorder die ontkieming van botrytis spore. Goeie deurlugting bevoordeel ook vinnige afdroog van die blare na reën. Baie geilgroeiende, nat of vogtige wingerde is meer vatbaar vir hierdie besmetting. Beperk dus stikstofbemesting op vrotgevoelige liggings om sodoende oormatige blaargroei te beperk. By besmette wingerde moet die snoeisels verwyder en verbrand word.

Translated by Marinda Louw