Die Dorp Vredefort

© David Fleminger

Stil Dorpie

Alhoewel die dorp Vredefort sy naam aan die Koepel gegee het, is daar nie juis iets anders om besoekers na hierdie stil dorpie te lok nie. Dit is omtrent dieselfde tyd as Parys gestig, blykbaar weens ’n meningsverskil tussen die eiendomsontwikkelaars en die plaaslike bevolking. Daar was blykbaar baie kompetisie tussen die twee dorpe. Vredefort is in 1876 uitgelê en het in 1881 ’n dorp geword.
Die naam, wat Fort van Vrede beteken, het ’n onsekere oorsprong. Sommige sê die naam dui op die vrede wat die plaaslike boeregemeenskap gevoel het noudat daar ’n kerk in die omgewing was. Ander glo dat dit verband hou met ’n meningsverskil tussen die Transvaalse en Vrystaatse boere. Die verskil is glo oor brandewyn en koeksisters op ’n nabygeleë plaas opgelos.

Die Riemland

Aanvanklik was die mense van Vredefort deel van die jag-ekonomie wat in die noordwestelike Vrystaat uitgebrei het. Hierdie streek heet die Riemland, as gevolg van al die rieme wat as ’n byproduk van die jagtogte geproduseer is. Later het landbou as die hoof kommersiële aktiwiteit toegeneem en Vredefort spog met ’n prominente stel graansilo’s op die rand van die dorp.
Deesdae is Vredefort se grootste aanspraak op roem die plek waar die Vredefort-bolied op die aarde geval het en die middelpunt van ’n wêreldwye katastrofe. Ongelukkig is daar nie meer sigbare tekens van die massiewe impak nie. Daar is ’n klein, rotsagtige heuweltjie aan die buitewyke van die dorp wat sommige teleurgestelde besoekers glo die ware Vredefortkoepel is, maar dit is ’n fout. Klim tot bo op die onindrukwekkende koppie, kyk na die berge se kant toe en jy sal ’n idee begin kry van die omvang van die impak.

’n Pragtige Klein Dorpie

Hierdie onindrukwekkende koppie is ook die beplande plek vir ’n nuwe besoekersentrum. Die eerste fase van hierdie ontwikkeling moes al in 2009 oopgemaak het. Hier sal ’n inligtingskantoor, groot uitstallings area met installasies van die Vredefortkoepel en ’n snuisterywinkel wees. Die tweede fase was om ’n buitelug-arena, kultuuraktiwiteite, tuine en piekniek areas in te sluit. Die vordering van hierdie projek blyk egter onbepaald op ys te wees.
Vredefort het nog altyd in die skaduwee van sy groter buurvrou, Parys, wat net 15 km ver is gelê. Vredefort het geen rivier, geen antiekwinkels en geen gesellige restaurante nie. In plaas daarvan is daar ’n paar substandaard wegneemete-restaurante, verskeie hardewarewinkels en ’n haarkapper. Vredefort is egter ’n pragtige klein dorpie met ’n lieflike sandsteenkerk en outentieke plattelandse atmosfeer. Daar is baie potensiaal hier en ek is vol vertroue dat daar in die toekoms aansienlike ontwikkeling sal wees.

Translated by Ananda Schoeman