Desmond Tutu: ’n Leier in die Wording

Geordineer as ’n Priester

©Eric Miller
Desmond Tutu was onbetrokke by die politiek toe hy sy teologiese studie begin het en betrokke geraak het by die kerk. Sy humanitêre geaardheid sou hom egter nie toelaat om die mense se lyding onder die apartheidsregering te ignoreer nie. Hy het van ’n vrye en demokratiese gemeenskap sonder rasseverdeeldheid gedroom. Sy visie was ’n gemeenskap van gelyke burgerregte vir almal, geen Suid-Afrikaanse paswette, ’n gemeenskaplike onderwysstelsel en geen gedwonge deportasie van mede Suid-Afrikaners na die sogenaamde tuislande nie.

Nadat Tutu in 1960 as ’n priester georden is verhuis hy na die Verenigde Koninkryk (VK) om sy teologiese studies voort te sit. Met sy terugkoms na Suid-Afrika moes hy weereens gewoond raak aan die onderdrukking. Hy was hier ’n dosent voordat hy weer na die VK teruggekeer het om onder die Teologiese Onderwysfonds te werk. Hier het hy met die onderdrukking in ander derde wêreldse lande, spesifiek dié in ander Afrikalande, te doen gekry.

’n Aktiewe Rol in Proteste

Na Tutu se teologiese studies oorsee het hy in 1975 teruggekom na Suid-Afrika. Hy is as die Dekaan van St Mary’s Cathedral in Johannesburg aangewys en later as die biskop van Lesotho. Dit was toe dat hy ’n meer aktiewe rol in die proteste teen die situasie in Suid-Afrika begin speel het. Hy was ’n publieke figuur en het toegang tot ’n groot gehoor gehad waar hy homself dan ook uitgespreek het oor die onregte. Hy het saam met ander stryd-ikone soos Winnie Mandela en Mamphela Ramphele gewerk om hulle boodskap te versprei. Hy het vir internasionale ekonomiese sanksies teen Suid-Afrika gevra en het openlik kritiek op die 1967 Terrorisme-wet van die apartheidsregering gelewer.

’n Maand voor die die studenteopstand op 16 Junie 1976 het Tutu ’n brief aan die destydse Eerste Minister, John Vorster, gestuur. Hy het hom versoek om te onthou van die pad wat Afrikaners gestap het om hulle vryheid te kry en voorstelle gemaak om die stryd vir die res van die Suid-Afrikaners vreedsaam te beëindig. Hy het teen wydverspreide geweld gewaarsku indien apartheid nie afgeskaf word nie. Sy brief is as politieke propaganda afgewys. In die nadraai van die uiteindelike studenteopstand het Tutu die ouers en studente ondersteun.

Tutu se Paspoort word Gekonfiskeer

In 1978 is Tutu tot Hoofsekretaris van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) verkies. Hy was vasbeslote om sy posisie te gebruik en die organisasie aan die voorpunt van menseregte-aktivisme te plaas. In 1980 is een van die dominees, John Thorne, in hegtenis geneem. Tutu het ’n optog om te protesteer geloods en is self in hegtenis geneem. Hy en ander is oornag aangehou en met boetes uitgereik.

Die regering het ook sy paspoort gekonfiskeer. ’n Vergadering is na hierdie voorval tussen die kerkleiers en die destydse regering gehou. Die Eerste Minister PW Botha en Tutu was ook teenwoordig. Die kerk het die regering aangeraai om voordat daar nog meer geweld uitbreek apartheid af te skaf. Dit was ’n vrugtelose ontmoeting, maar Tutu was steeds vasberade om Suid-Afrika se leiers te bereik. Tutu het ook in 1980 ’n petisie vir die vrylating van Nelson Mandela onderteken en dit het die korrespondensie tussen die twee begin.

Tutu se paspoort is in 1981 aan hom terugbesorg. Hy het daarna tien lande in Europa en Noord-Amerika besoek om hulle oor die apartheid situasie in te lig en die leiers van die lande te smeek om ekonomiese sanksies, wat druk op die Suid-Afrikaanse regering sou plaas, in te stel. Met sy terugkoms na Suid-Afrika is sy paspoort weereens gekonfiskeer. Die regering het hulle bes probeer om Tutu se invloed te onderdruk. Een van die pogings was die borgskap van die Christelike Liga, ’n organisasie wat geld aanvaar het om veldtogte teen die SARK, waarvan Tutu die hoof was, te voer.

Bevorder die Boodskap van Vrede

©Eric Miller
Tutu het in 1982 briewe aan verskeie wêreldleiers geskryf om sy boodskap van vrede te bevorder. Dit sluit ’n brief aan die Eerste Minister van Israel, waarin hy gevra word om die bombardement van Beiroet te staak, in. Hy het ook aan die Palestynse leier Yasser Arafat ’n brief gestuur waarin hy versoek het dat daar meer erkenning aan die bestaan van Israel gegee word. Hy het Zimbabwe, Lesotho en Swaziland se leiers bedank vir hulle gasvryheid teenoor die vlugtelinge en hulle versoek om nie hierdie vlugtelinge na Suid-Afrika toe terug te stuur nie.

Na sy paspoort aan hom teruggegee is, het hy ook die Verenigde State van Amerika (VSA) besoek waar hy tydens die driejaarlikse konvensie van die Episkopale Kerk hulle toegespreek het.

Terwyl hy daar was het hy die destydse president, Ronald Reagan, gekritiseer vir die verhouding wat hy met die Suid-Afrikaanse regering het en dat hy rassisme ondersteun deur dit te onderhou. Hy het by die Amerikaanse publiek, wat hom vergelyk het met hul eie stryd-ikoon, Martin Luther King Jr., gewild geword. Die wit konserwatiewes in Suid-Afrika was nie hiermee beïndruk nie en het hom hewig gekritiseer.

Tutu is in 1983 as beskermheer van die United Democratic Front (UDF) verkies. Hy het sy vrou Leah ondersteun in haar appèl vir die beter werksomstandighede van huishoudelike werkers. In 1983 was sy medestigter van die South African Domestic Workers Association.

Dit was ook die jaar wat Tutu met die pous ontmoet het om die situasie in Suid-Afrika te bespreek. Na hy gehoor het dat die mense van Mogopa in die destydse Wes-Transvaal na die Bophuthatswana-tuisland verwyder en hulle huise vernietig sou word, het hy en ander kerkleiers ’n nagwaak gehou. Dr. Allan Boesak was ook een van die deelnemers.

Translated by Ananda Schoeman