Dekgewasse

©Louise Brodie
Dekgewasse word geplant tussen wingerdrye, dikwels in ‘n rotasiesisteem van een jaar na ‘n volgende. Dit word gedoen vir ‘n verskeidenheid van redes; hoofsaaklik vir die onderdrukking van onkruidgroei, maar ook vir die beperking van verdamping, verbetering van grondstruktuur en waterindringing en om grond-erosie teen hellings te beperk. Die optimale planttyd vir dekgewasse is aan die einde van die somer wanneer die grondtemperatuur nog hoog genoeg is vir saadontkieming, maar daar reeds genoeg reën geval het: middel-April tot einde Mei.

Die keuse van dekgewas word hoofsaaklik bepaal deur die grondtipe en die wyndruifkultivar wat geplant is. In te geilgroeiende wingerde kan ‘n permanent dekgewas gevestig word, terwyl wingerd wat effe gestrem is, voordeel sal trek uit peulgewasse wat stikstof tot die grond toevoeg. Ander dekgewasse sal weer help om oormatige vog uit die grond te onttrek. Die gewildste dekgewas is korog, maar baie produsente verkies om saadmengsels te plant.

©Francois Viljoen Wineland
Dekgewasse wat chemies of meganies beheer word, kan ’n baie digte organiese massa op die grondoppervlakte vorm wat grondtemperatuur verlaag en waterverliese vanaf die oppervlakte beheer. Dié verwerende organiese massa kan in die grond inbeweeg om sodoende die grondstruktuur te help verbeter en dus ook die grond se waterhouvermoë. Soms dien dekgewasse as groenbemesting wanneer jong plante in die grond ingewerk word.

Dekgewasse word gekies om sekere funksies te verrig. Peulgewasse (soos lupiene, klawer, wieke en serradella) bind stikstof in die atmosfeer en stel dit vry in die grond om sodoende die grond se stikstofinhoud te verhoog. Sommige dekgewasse word gekies vir hul geskiktheid as huisvesting vir bio-predators. Dit lok insekte wat die natuurlike vyande van wingerdpeste is. Voorbeelde van geskikte dekgewasse is radys en witmosterd. Witmosterd en saia hawer is ook nuttig as smoorgewasse - dekgewasse wat die groei van onkruid onderdruk.

Fava boontjies is ideaal in nat, suur gronde en help met stikstoffiskering. Ander dekgewasse soos grane en paspalum dien as grondbedekkers teen erosie. Dekgewasse word teen September platgerol of doodgespuit om kompetisie vir voedingstowwe met die wingerd, wat nou begin bot, uit te skakel.

Translated by Marinda Louw