Dit was nie maklik om met een van die bekendste teenstanders van apartheid getroud te wees nie. Winnie Mandela se man, Nelson, was voortdurend besig met ANC sake en regsgedinge, en die polisie het gereeld klopjagte op hul huis uitgevoer. Winnie was op haar eie by aktivisme betrokke, selfs terwyl sy swanger was.
In 1958 het sy in teenpaswetveldtogte gemoeid geraak ná die bekende optog van vroue in Augustus 1956 om die paswette te protesteer. Sy was een van die 1000 vroue wat gearresteer is. Sy en haar kamerade het besluit om vir twee weke lank in aanhouding te bly in plaas daarvan om onmiddellik vir borgtog aansoek te doen.
Sy is hier aan die afgryslike toestande in die Suid-Afrikaanse tronke blootgestel. Na haar vrylating het die publiek sowel as die polisie begin besef dat sy, onafhanklik van haar bekende eggenoot, 'n mag is om mee rekening te hou. Kort hierna het sy haar werk by die Baragwanath-hospitaal verloor. Haar en Nelson se dogter, Zenani, is na hierdie voorval in 1959 gebore.
Winnie Mandela het inspirasie en ondersteuning gevind by die ander merkwaardige vroue wat deel geword het van die stryd teen die apartheid-regering. Dit sluit in vroue soos Lillian Ngoyi, Helen Joseph, Albertina Sisulu, Florence Matomela, Frances Baard, Kate Molale, Ruth Mompati, Hilda Bernstein en Ruth First.
Hierdie vroue het Winnie se nabye vertrouelinge geword, iets wat toe skaars was. Baie keer is mense wat politieke aktiviste bevriend het, later ontmasker as regeringsinformante. Dit was moeilik vir haar om mense te vertrou. Die instelling van die Wet op Bantoe-owerhede in 1951 het onmin tussen Winnie en haar familie in die Transkei veroorsaak.
Hoofman Kaizer Matanzima, een van Winnie se voormalige bewonderaars en haar pa se werkgewer, het die wet en sodoende die Suid-Afrikaanse regering ondersteun. 'n Pondo weerstandsgroep, Intaba, wat die besluit teengestaan het, het een aand Winnie se familiewoning aangeval, haar stiefma ernstig aangerand en die hut tot op die grond afgebrand.
Die gevolg van die aanval was dat die vrou wat die moederlose Winnie jare terug as haar eie aanvaar het, se onderlyf verlam was. Sy is kort daarna oorlede. Winnie se pa het egter aangehou om Matanzima te onderstuen, en selfs 'n kabinetspos in die tuisland beklee. Winnie het dit as algehele verraad deur haar pa beleef, aangesien sy gevoel het hy kies die onderdrukkers se kant. Die konflik het die familie uitmekaar geskeur.
Translated by Rentia Pretorius