Wenke vir Blommekyk in die Richtersveld

Nou ja goed, jy het veilig by jou jou akkommodasie aangekom en is reg vir blommekyk. Hoe nou gemaak? Hier volg ’n paar wenke vir ’n vrugbare blommekyk-sessie.

Vra Vrae

©David Fleminger
Praat met die regte mense en kry hulle aanbevelings. Die kondisies verander daagliks. Praat dus met die plaaslike inwoners en mede toeriste om uit te vind waar hulle was en wat waar gesien kan word. Die personeel by die plaaslike toerismekantoor kan ook inligting verskaf oor die beste blommekyk-roetes en wat tans te sien is.

Moet nie te Vroeg Gaan nie

Die blomme reageer op die son en gaan slegs oop soos die dag warmer word. Sodra die son begin sak gaan dit toe. Beplan dus jou blommekyk tussen 11:00 en 15:00, afhangende van hoe helder die son skyn die dag. Onthou dat baie van die blomme glad nie sal oopmaak as dit te bewolk, reënerig of winderig is nie.

Kyk Direk na die Blomme en Volg die Son

Staan tussen die son en die blomme om die mooiste te sien. In die oggend byvoorbeeld sal die blomme aan die linkerkant van die pad oop wees en smiddags dié aan die regterkant. Probeer om die son agter jou te hou as jy rondry.

Kyk na jou Voete

©David Fleminger
Daar is ’n groot verskeidenheid blomspesies in Namakwaland, moet dus nie net van ver af na die massas kyk nie. Sommige van die kleiner en rare plante is baie meer interessant as die meer algemene madeliefies wat in plate voorkom. So kniel en kyk ’n bietjie van naderby.

Moet nie te Vinnig Ry nie

©Shem Compion
Baie van die interessantste blomme is moeilik om te sien, so ry ’n bietjie stadiger en kyk mooi rond. Dit is ook belangrik dat jy rustig ry en oplet as ander toeriste skielik stop vir foto’s of ’n stappie. Daar is baie grondpaaie en die stof wat deur ’n gejaag veroorsaak word, is vir die blomme sowel as die ander mense onaangenaam.

Doen ’n Bietjie Huiswerk

Kry ’n blommekyk-boek soos die “National Botanical Society’s Wildflower Guide” en lees ’n bietjie na oor die plante wat te sien is. Soos een hotelbestuurder my ingelig het: “die plaaslike inwoners is te besig om jou hand vas te hou”. Moet asb. nie enige blomme pluk om vir jou vriende te kom wys nie.

Kry die Regte Houding en Let op Bewaring

©David Fleminger
Die blomme luister na niemand nie en dus kan (en moet) daar geen waarborg gegee word nie. Moet dus nie met ’n gevoel van eiegeregtigheid of arrogansie hier aankom nie. Jou toeroperateur kan ook nie blameer word as die blomme nie is wat jy verwag het nie. Die plante is baie delikaat en jy moet mooi kyk waar jy trap en slegs op die aangeduide paaie bly.

Hou dit Plaaslik

©David Fleminger
Baie inwoners stel hulle privaat huise en plase aan blommekykers tydens die piek seisoen beskikbaar aangesien daar ’n skaarste is aan gastehuise en hotelle. Vra een van die toerismekantore vir so ’n lys van privaat akkommodasie. Vat warm klere saam, want die temperature kan tot onder 0°C val. Indien jy kamp is ’n ekstra slaapsak ’n goeie idee.

Kry ’n Privaat Blommekyk-Gids

©David Fleminger
Sommige dorpe in Namakwaland het gespesialiseerde gidse wat jou kan rondvat. Dit sal baie bydra tot jou waardering vir die blomme. Verskeie organisasies lei ook die plaaslike bevolking op as gidse, ’n inisiatief wat beslis ondersteun kan word. Raadpleeg die toerismekantoor vir meer inligting.

Translated by Ananda Schoeman