Organiese boerdery is die proses waartydens omgewingsvriendelike boerderymetodes gebruik word om grondgesondheid te verbeter, die omgewing te beskerm asook die mens se gesondheid te verseker.
Boere gebruik tradisionele én moderne metodes van boer en kombineer dit met navorsing om weer ‘n balans in die natuur se ekosisteme te bring. Organiese landbou beteken dus om natuurlike en omgewingsvriendelike metodes en materiaal te gebruik. Geen chemiese kunsmis en plaag- of onkruiddoders word toegelaat nie. Organiese verbouing is daarop toegespits om ’n gesonde omgewing, gesonde voedsel en gesonde verbruikers te bewerkstellig.
As die omgewing waarin landbouprodukte verbou word gesond is, sal die produk gesonder wees en verbruikers wat die produk gebruik sal ook gesonder wees en ’n beter immuunsisteem opbou. Organiese landbou verskil van biologiese en konvensionele landbou.
Biologiese landbou is omgewingsvriendelik en gebruik waar moontlik organiese kunsmis, maar sit soms ’n bietjie stikstof (N) by die grond om die gesondheid daarvan te verbeter. Die kunsmis is soms van chemiese oorsprong. Konvensionele landbou is wanneer landbou metodes gebruik word wat slegs daarop gemik is om die hoogste moontlike plantproduksie te verkry.
Wanneer baie onkruiddoders, plaagdoders en kunsmis toegedien word en hoofsaaklik een gewas aangeplant word, noem ons dit konvensionele boerdery.
In organiese landbou word verskillende gewasse saam aangeplant om ’n groter bio-diversiteit (bio = lewe; diversiteit = verskeidenheid) te skep.
Die organiese produsent moet soveel as moontlik verskillende tipes van lewende organismes op sy plaas hê - ’n verskeidenheid van insekte, voëls, klein roofdiere en soogdiere en ook ’n groot verskeidenheid plante.
As hierdie sisteem (ons noem dit ’n eko-sisteem) nie in balans is nie en daar is te veel van een soort dier begin hulle soveel aanteel dat dit ’n plaag raak. Byvoorbeeld as ons uile op die plaas uitroei, gaan muise ’n plaag raak, want daar is niks wat op die muise jagmaak nie.
Voorbeelde van organiese landbou praktyke sluit in wisselbou (nie net dieselfde gewas elke jaar op dieselfde grond nie), die plant van sekere plante en blomme wat bio-predatore (insekte wat op peste teer) lok en die gebruik van natuurlike plaagdoders om siektes en plae te bestry.
Produsente wat wil organies produseer moet kennis van:
Wat van ’n organiese produsent verwag word. Watter middele toegelaat of verbode is in organiese produksie. Watter landboumetodes in organiese produksie gebruik word en waarom. Hoe om as ’n organiese produsent te registreer/sertifiseer. Hoe/waar om organiese produkte te bemark.
Die organiese produsent moet eerstens ’n afskrif van die nuwe Suid-Afrikaanse organiese regulasies bekom en daarna besluit of hy/sy gaan sertifiseer as organies of slegs organies gaan boer. Sertifisering word kan deur Afrisco ‘n Suid-Afrikaanse organiese sertifiseringsliggaam gedoen wat geakkrediteer is onder IFOAM (International Federation of Organic Agricultural Movements) standaarde. Daar word dan ’n fooi betaal en ’n inspekteur word jaarliks uitgestuur om inspeksies te doen.
Produsente wat organies gesertifiseer is ontvang ’n nommer van die sertifiseringsliggaam en kan hulle produkte onder die embleem (logo) van die sertifiseringsliggaam verkoop. Hulle is dus volgens die wet beskerm en geregistreer as organiese produsente. Produsent hoef nie sy hele plaas organies te sertifiseer nie en hoef ook nie al sy gewasse te sertifiseer nie, maar daar moet ’n duidelike verskil wees tussen gesertifiseerde organiese en konvensionele gewasse.
Daar is ‘n oorgangsperiode aan die begin van organiese boerdery. Dit is die tyd wat dit neem wat dit neem om van konvensionele boerdery na organiese boerdery oor te skakel en is vasgestel volgens organiese regulasies. Die oorgangsperiode is twee jaar vir eenjarige gewasse soos groente en drie jaar vir meerjarige gewasse soos vrugtebome en wingerd.
By Marinda Louw