Reën is die neerslag van waterdruppels met deursnee groter as 0.5 mm. Wanneer die druppels kleiner is, word dit gewoonlik motreën genoem.
Die aantal reën wat val word beskryf as ligte, matige en swaar reën, afhangende van hoeveel reën in 'n uur sal val. Ligte reënval is bv. 2.5 mm per uur, matige reënval is 2,8 - 7,6 mm per uur en swaar reënval is meer as 7,6 mm per uur.
Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens is 1 mm van reënval gelykstaande aan 1 liter water in 'n 1 m x 1 m area met geen afloop, infiltrasie of verdamping nie.
Reën word vervaardig deur wolke. Wolke vorm wanneer vogtige lug styg. Vogtige lug sit uit, as gevolg van laer druk hoër in die atmosfeer, en koel dan weer af. Die afgekoelde lug word versadig met waterdamp en dit is dan wanneer kondensasie plaasvind.
Kondensasie vind plaas wanneer waterdruppels op 'n koue oppervlak of om deeltjies vorm. As kondensasie aanhou, groei hierdie waterdruppels totdat dit te swaar word vir die opwaartse beweging van die lug en dan val dit af aarde toe.
Op grond van hul vorm word wolke gegroepeer in twee klasse: Stratiform en Cumuliform. Stratiform wolke is kombers-agtig en dek groot gebiede. Hierdie wolke word gevorm wanneer die luglae gedwing word om geleidelik te styg oor groot gebiede. As die boonste laag klam is en voordurend styg, kan stratiform wolke oorvloedige reën of sneeu bring.
Cumuliform wolke, wat rond of gloeilamp-agtig van voorkoms is, ontwikkel gewoonlik opwaarts. Hierdie opwaartse beweging veroorsaak digte, lang, cumulonimbus wolke wat donderstorms bring.
Reën word geklassifiseer volgens sy manier van vorming:
Konveksiereën
Konveksie reën word gevorm wanneer klam warm lug styg vanaf die aarde se oppervlakte. Cumulonimbus of cumulus wolke word gevorm en reën val in die vorm van gelokaliseerde donderstorms. ʼn Donderstorm word geassosieer met 'n sterk, rukkerige wind, swaar reën en soms ook hael. In woestyn gebiede, kan water druppels van 'n donderstorm verdamp voordat dit op die grond val. Sulke reën kom ook voor in die somer in sub-tropiese gebiede waar daar 'n kombinasie van vog en hitte in die lug is.
Orografiese reën
Orografiese reën vorm wanneer klam winde teen die kant van die berg op geforseer word. Nimbostratus wolke vorm en reën val op die windkant van die berg. Reënval is laag op die lykant (kant wat beskut is van die wind) van die berg. Hierdie gebied word geklassifiseer as 'n "reënskadu".
Die Klein-Karoo, rondom Oudtshoorn in die Wes-Kaap, is die mees ekstreme voorbeeld van 'n reënskadu in Suid-Afrika. Reënval op die windkant en kus kant van die Outeniquaberge kan meer as 1 000 mm per jaar wees, maar in die meeste gebiede van die Klein Karoo, op die lykant (kant wat beskut is van die wind) van die berg, is dit minder as 200 mm per jaar.
Frontale of Sikloniese reën
Frontale of sikloniese reën word veroorsaak deur laagdrukstelsels wat siklone omring. Dit gebeur wanneer 'n warm lugmassa (warm front) en 'n koue front ontmoet, wat 'n sikloon ontwikkel ('n stelsel met 'n lae druk in die middel en hoër druk rondom). Die warm lug word gedwing om bo die kouer digte lug uit te styg. Die lug wat styg in die middel afkoel vorm nimbostratus wolke en lei tot baie swaar reën in die gebied.
Translated by Wilma Koeppen