Wanneer om die Richtersveld te Besoek

Die Miljoen-doller Vraag

©David Fleminger
Eerstens is daar regdeur die jaar eintlik blomme. Vetplante, soos die Crassula-spesies, wat gedurende die warm maande van November tot Februarie blom gee baie kleur. Verskeie geofiete en bolle, soos die Amarillis-familie blom as die temperature begin koeler raak, laatherfs tot vroegwinter. Die geurige Kandelaar of Maartblom, Brunsvigia Bosmaniae, gee ’n besondere vertoning en blom drie weke na swaar reën in Maart tot April (alhoewel dit nie elke jaar gebeur nie). In die winter begin verskillende aalwynspesies blom.
Die hoofgebeurtenis skop egter eers af as die temperature in die vroeë lente styg. Die bekende lenteblomme kom dus van die begin van Augustus tot die helfte van September uit, met ’n paar weke weerskante toe. Mid tot einde Augustus word gewoonlik beskou as die hoogseisoen, maar daar is verskeie veranderlikes wat in ag geneem moet word.

Hoe Meer Reën, Hoe Mooier

©Jacques Marais
Eerstens is daar verskillende soorte veldblomme, insluitend eenjariges (soos madeliefies), vygies, meerjariges, geofiete en struike wat in die lente begin blom. Hierdie verskeie spesies sal verskillende tye blom en doodgaan. Tweedens, moet jy uitvind wanneer die winterreëns geval het. Die blomme sal ’n maand of twee na die hoof reën begin blom. Dit kan op verskillende tye in verskillende dele van die streek gebeur. Die intensiteit van die reën is direk verwant aan die intensiteit van die blomme – hoe meer reën, hoe mooier.
Dan moet jy jouself afvra, waar is jy? Die blomme is geneig om as die temperature begin styg te blom. Hierdie toename vind gewoonlik eers langs die kusgebiede en in die noorde plaas voordat dit ooswaarts na die binneland van Namakwaland beweeg. Hoogte bo seespieël speel ook ’n rol, hoe hoër jy is, hoe kouer gaan dit wees en hoe later sal die blomme begin blom. Die hoogtes van die Kamieskroon berge mag selfs laat in Oktober blomme hê.

Bespreek Vroegtydig

Die klimaat van die Richtersveld het 'n groot impak op die befaamde blomtydperk in lente. Die verandering van 'n koue winter na ’n warm lente sal veroorsaak dat blomme vinniger doodgaan. As die lente temperatuur egter laag is, met koue nagte, sal die blomme langer hou. 'n Warm bergwind wat oor die berge waai kan ’n massa blomme oornag uitwis. Die weer beinvloed dus die tydperk van blomkyk in die area.
Afhangende van waar jy is en watter blomme jy wil sien, kan die seisoen so vroeg as middel Julie begin en aangaan tot einde September. Augustus is die veiligste, veral in Nieuwoudtville en Springbok. Daar is egter ’n groot probleem. Jy kan nie wag totdat die blomme begin blom en dan in jou motor spring en Namakwaland toe jaag nie.
Dit is omdat die hele streek gedurende die blomme seisoen maande vooruit bespreek word. Ek het dit eerstehands ondervind toe ek in Vanrhynsdorp aangekom het sonder voorafbespreekte verblyf. Elke hotel, gastehuis en kampterrein was heeltemal vol en ek bedoel tot barstens toe vol. Die nabygeleë dorpe, Vredendal en Nieuwoudtville, was ook tjok-en-blok vol. Dit is ’n afskuwelike gevoel om in die nag in ’n vreemde dorp te sit en desperate oproepe vanaf die vulstasie te maak, net om te vind dat daar letterlik geen kamers by enige plek beskikbaar is nie.
Ek het uiteindelik na Klawer (20 km ver) gery en in die laaste kamer by ’n gastehuis, wat tot onlangs nog ’n plaasskool was, ingeboek. Terwyl ek in die ontbytkamer wat voorheen die gimnasium was gesit het, het ek besef dat dit dwaas was om te dink dat ek net in die piek seisoen kon opdaag en in ’n hotelkamer kon inwals. Ek het darem myself getroos met die wete dat ander mense uit my fout kon leer.

Georganiseerde Toere

Een van die redes vir die tekort aan akkommodasie is die toergroepe. Jy sien hulle oral; groot busse wat duisende ouer mense deur Namakwaland op blommetoere vervoer. Die hotel by Vanrhynsdorp was vol van hulle. Almal met naamplaatjies wat netjies aan sweetpakke en blomryke bloesies vasgesteek is. Groot tande en nog groter hare wat in die lamplig glinster. Dit was eintlik ’n bietjie oorweldigend om daar te staan terwyl hulle die ontvangslokaal oorval en opgewonde met hulle bekende gasheer op pad na die buffettafel loop en gesels.
Moet my nie verkeerd verstaan nie. Vir baie mense is georganiseerde toere die beste manier om Namakwaland en sy blomme te aanskou. Wie is ek om hulle pret te ontneem? Toere bied jou sekuriteit, toesig en gerief. Dit kan ook baie koste-effektief wees.

Translated by Ananda Schoeman