Voordele en Gebruike van Sampioene

©Marinda Louw

Sampioene is gesond en ʼn smaaklike toevoeging tot verskillende geregte met 'n hoë voedingswaarde.

In Suid-Afrika is die mees algemene gebruik van sampioene om dit te kook (van vars na gaar). Sampioene word gebruik in geregte soos omelette, risotto, sop en sampioen souse saam met biefstuk, pasta en groente. Sampioene kan ook rou geëet word in slaaie en as medisyne gebruik word.

Die artikel "Sampioen Produkte" gee meer inligting oor sampioen-verwante produkte.

Is Sampioene Gesond om te Eet?

Sampioene bevat vesel, proteïene, vitamiene, minerale en antioksidante. Die antioksidante in sampioene is selenium, vitamien C, choline asook die swawelbevattende aminosure: ergothioneine wat ook beskerm teen oksidatiewe stres.

Knopiesampioene is 'n bron van agt verskillende vitamiene en ses verskillende minerale. Dit sluit in koper, selenium, kalium, mangaan, sink en fosfor asook die vitamiene B1, B2, B3, vitamien C en pantoteensuur.

Hongarye, 'n land met 'n selenium tekort, het die proses van verryking van knopiesampioene met selenium deur die behandeling van die groeiende substraat (kompos) met verskillende selenium verbindings bestudeer. As 'n antioksidant speel selenium 'n rol in die voorkoming van gewasse en verminder dit die newe-effekte van die behandeling.

Sampioene en Vitamien D

©Louise Brodie

Vitamien D verstrerk die immuunstelsel, verseker gesonde bene en beskerm die liggaam teen osteoporose, hoë bloeddruk en inflammasie.

Alhoewel sampioene groei in 'n toestand waar daar geen natuurlike sonlig is nie kan dit 'n waardevolle bron van vitamien D wees. Sampioene bevat ergosterol 'n plant sterol wat omgesit word tot vitamien D2 wanneer dit blootgestel word aan ultraviolet lig. Navorsing deur die Sydney Mediese Skool in Australië het bevind dat wanneer 'n 100 g gedeelte van (rou) knopiesampioene in die middag son vir 'n uur gelaat word dit 10 mg vitamien D bevat wat die daaglikse aanbevole toelae van vitamien D vir volwassenes is. Bruin portabella (of portobello) sampioene neem sowat twee uur om 'n vitamien D-vlak van 10 mg te bereik.

Hoe om Sampioene te Eet

©Marinda Louw

Sampioene kom in verskeie vorms voor - vars, geblikte, gedroogde, verpoeierde en bevrore - en na gelang van die stam kan dit rou geëet word, gekook, gerehidreer en ook geneem word as medisyne in die vorm van kapsules en poeiers.

Sampioene behou meer voedingstowwe wanneer dit vir 'n korter tyd gekook word en daar is bevind dat die rooster of kook van sampioene in 'n mikrogolf die anti-oksidant eienskappe verhoog in vergelyking met sampioene wat in 'n pan gebraai word.

Vleis en Sampioene

Sampioene word dikwels gekombineer met ander bestanddele of bygevoeg by geregte om die Oemami ('n Japanese woord vir vleiserige smaak) van geregte te verhoog.

Daar is 'n tendens om sampioene by vleis geregte te voeg om die kilojoule-inhoud te verminder, asook die smaak en voedingswaarde van 'n vleis gereg te verhoog. Navorsing het getoon dat 'n 50:50 mengsel van sampioene en vleis (gemaalde beesvleis, hoender, lam en selfs vis) die inname van versadigde vette sal verminder en die voedingswaarde van die maaltyd vermeerder sonder dat die vleis smaak verlore gaan.

Sampioene as Medisyne

©Marinda Louw

Afgesien van kos word sampioene ook gebruik vir die behandeling van verskeie siektes en is vir duisende jare as tradisionele medisyne in die Ooste gebruik.

Daar is meer as 2 000 geïdentifiseerde spesies van eetbare en/of medisinale sampioene, met baie navorsing wat al gedoen is oor hul voordele en medisinale waarde. Wat volg is 'n kort beskrywing daarvan.

Voortgesette navorsing dui aan dat sekere rasse van sampioene 'n rol speel in die voorkoming van baie-ouderdom-verwante siektes soos Alzheimer’s en Parkinson’s. Navorsing fokus op die tipes sampioene wat geheue en denke sal verbeter maar tot op hede is die vals elwebankie (turkey tail mushrooms) gebruik vir die mees omvattende navorsing wat op sampioene gedoen is. Medisinale eienskappe gaan voort om ondersoek te word soos die gebruik daarvan vir die behandeling van infeksies (insluitend MIV en herpes), om die immuunfunksie in borskankerpasiënte en sy voordele om die verligting van chroniese moegheid te verbeter.

Die ander medisinale eienskappe van sampioene is as antioksidant, anti-diabeties, anti-gewas, anti-kanker, immunomodulatory (die vermoë om immuun funksies te verander en te reguleer) en anti-allergies. Sommige van die sampioene wat met sukses gekrediteer word teen kanker is die Agaricus spesies (bruin en knoppie sampioene), die wilde sampioene genaamd baai bolete, enoki, Lactarius sampioene ('milkcaps'), die spesie van helderkleurige Russula genus en nog vele meer.

Nie al die sampioene is eetbaar nie en daar moet uiters versigtig te werk gegaan word wanneer daar gesoek word vir wilde sampioen. Dit word aanbeveel om 'n sampioen spesialis of gesondheidspraktisyn te raadpleeg voordat enige wilde sampioen ingeneem word of vir kulinêre of medisinale doeleindes gebruik word.

Translated by Wilma Koeppen