Voëlgriep

© Nigel Dennis

Avian influenza, ook bekend as voëlgriep, het een van die grootste bedreigings geword vir wêreldgesondheid. Die Voëlgriep siekte veroorsaak nie net reuse ekonomiese verliese weens die tot-niet-maak van duisende stuks pluimvee oor die wêreld heen nie, maar sommige van die stamme van die griep soos H5N1 en H7N9 is ook oordraagbaar aan mense.

Volgens die Wêreld Organisasie vir Dieregesondheid is die H5N1 stam die eerste keer in 1997 in Hong Kong gediagnoseer en het sedert 2003 van Asië na Europa en Afrika versprei. Tussen 2002 en 2009 is 468 mense deur H5N1 geïnfekteer, terwyl 282 daaraan gesterf het. Tussen 2010 en 2014 is 233 mense geïnfekteer en 125 mense het daaraan gesterf.

Infeksies en sterftesyfers weens die siekte het sedertdien gedaal en volgens die Wêreld Gesondheidsorganisasie was daar slegs 145 gevalle met 42 sterftes in 2015, 10 gevalle met drie sterftes in 2016 en drie gevalle met een stefte in 2017. Menslike besmetting is tot dusver hoofsaaklik toegeskryf aan kontak met besmette omgewings. Daar word gevrees dat die siekte mag ontwikkel sodat dit meer doeltreffend tussen mense kan versprei.

Verskillende Stamme

Daar bestaan meer as 15 stamme voëlgriep wat tipies geklassifiseer word in twee kategorieë na gelang van die ernstigheid van die siekte onder pluimvee:

Lae patogeniese voëlgriep, wat geassosieer word met min of geen siektesimptome nie.
Hoogs patogeniese voëlgriep, wat geassosieer word met ernstige siektesimptome en hoë mortaliteit.

Die H5N8 stam wat in 2017 in Suid-Afrika uitgebreek het, was nie oordraagbaar aan mense nie, maar het gelei tot die dood van byna tweehonderdduisend voëls. Sommige van die geaffekteerde produsente het gerapporteer dat die voëls geen vooraf tekens van siekte getoon het nie, maar net dood neergeval het teen ‘n skrikwekkende tempo.

Simptome

Volgens die Lancet Laboratories en die Departement van Landbou se Avian Influenza-Veterinary Fact Sheet, presenteer die siekte in die ligte vorm as deurmekaar vere, verminderde eierproduksie of ligte asemhalingsprobleme soos nies of proes. In die ernstige graad word nie net die lugweg geaffekteer nie, maar ook ander organe en weefsel, wat mag lei tot inwendige bloeding.

In die ernstige vorm mag simptome die volgende insluit:

Voëls mag stil en lusteloos wees of depressief voorkom.
Daar mag ‘n skielike afname in eierproduksie wees en die doppe van baie eiers mag óf sag, óf heeltemal afwesig wees.
Die kamme en lelle van die voëls mag opswel.
Die gesig of vel onder die oë mag swel en ‘n persblou kleur aanneem.
Voëls mag konjunktivitis (inflammasie van die konjunktiva van die oog) ontwikkel.
Asemhalingsimptome mag hoes, nies en hyg insluit.
Senusimptome mag insluit bewerasie, verdraaide nekke of verlamde vlerke. Sommige pluimveespesies mag hul balans verloor en op hul rûe bealnd terwyl hulle aanhoudende trapbewegings met hul bene maak.
Voëls is geneig om diarree te hê.
Daar mag bloeding wees van die hakskeengewrigte.
Net ‘n paar sterftes mag aanvanklik vir ‘n paar dae voorkom, maar dan skielik toeneem met ‘n mortaliteitsyfer wat kan raak aan 100% binne 48 uur.

Translated by Elna Van Rhyn